Brand in Kalifornië die VSA se dodelikste vanjaar

Lede van Mormon Hot Shots in Arizona spook om die brand in bedwang te help hou. (Foto: David Crane/The Orange County Register via AP)

ʼn Veldbrand wat in die noorde van Kalifornië in die VSA woed en ʼn dorpie aan die voet van ʼn berg verwoes het, is nou die land se dodelikste brand vanjaar. Die dodetal staan in hierdie stadium op tien en kan selfs verder styg terwyl reddingswerkers soek na 16 vermiste mense.

Die brand is die afgelope week aangedryf deur sterk wind wat teen Vrydag minstens effe gaan lê het. Die gebied is vroeër gehul in ʼn rookskaduwee wat die temperatuur laat daal en brandbestryders gehelp het om vordering te maak om die brand in bedwang te bring.

Die rook het egter swak sigbaarheid veroorsaak en brandbestrydingshelikopters kon Donderdag glad nie vlieg nie.

In die meeste gebiede in die deelstaat is die rooivlagwaarskuwings vir ʼn ernstige brandgevaar weens warm, droë toestande of rukwinde intussen opgehef.

Net ʼn paar dae gelede het die brand so vinnig deur die voetheuwels van Sierra Nevada versprei dat brandbestryders byna deur vlamme verswelg is. Inwoners het na ʼn nabygeleë dam vir hul lewe gevlug en die dorpie Berry Creek, met sy 525 inwoners, is verwoes.

Donderdag het die sheriff van Butte County, kapt. Derek Bell, gesê sewe liggame is gevind. Dit het die dodetal in die gebied binne twee dae op tien te staan gebring. Minstens vier mense is met ernstige brandwonde in hospitale opgeneem.

Wetstoepassers en speurders soek na menslike oorskot terwyl hulle saam met ʼn span antropoloë die gebied fynkam, het Bell gesê.

‘n Brandbestryder blus vlamme langs Highway 38 in Kalifornië. (Foto: Will Lester/The Orange County Register/SCNG via AP)

Uitgebrande en omgeslaande voertuie, stukkende kragdrade en die ruïnes van wat eens geboue was, vertel die verhaal van die verwoestende brand. Een voertuig wat op ʼn grondpad in die gebied gevind is, het drie dooie honde in gehad, terwyl oorblyfsels van ʼn kitaarboks en gesmelte CD’s in ʼn verlate bakkie gevind is.

Meer as 2 000 huise en ander geboue is beskadig sedert die brande sowat ʼn weke gelede uitgebreek het. Die uiteindelike skade gaan waarskynlik veel erger wees. Skadebepalingspanne beoog om Vrydag met ʼn metodiese soektog deur die geraakte gebiede te begin.

Onder diegene wat steeds vermis word, is ʼn egpaar wat hul seun vroeër gebel en gesê het hulle gaan aan die vlamme probeer ontkom deur skuiling in ʼn dam te soek.

“Ons hoop en bid steeds vir goeie nuus,” het Jessica Fallon, ʼn familielid, gesê.

“Alles kan vervang word, maar nie my grootouers se lewe nie. Ek verloor eerder alles anders as vir hulle. Hulle het ons familie bymekaar gehou.”

Fallon peper hospitale sedert die egpaar se verdwyning met vrae oor die moontlikheid dat hulle daar opgeneem is, maar teen laat Donderdagaand was daar nog geen teken van hulle nie.

Die spoed en intensiteit van die brand het mense stomgeslaan – selfs diegene wat ʼn brand onthou wat skaars twee jaar gelede die lewe van 85 mense geëis en die dorp Paradise, ʼn klipgooi van waar die brand tans woed, verwoes het.

Die hoofpad uit dié dorp was Woensdag bitter besig terwyl as uit die rooi hemel neergesif het. Die owerhede het ʼn waarskuwing om Paradise te ontruim vroeër opgehef, maar mense gemaan om waaksaam te bly.

Woensdag is ʼn span brandbestryders deur vlamme oorweldig toe die wind skielik gedraai en hulle skielik noodskuilings moes ontplooi. Hulle het geringe beserings opgedoen. Dit is die tweede keer in net twee dae dat brandbestryders in Kalifornië ʼn desperate poging moes aanwend om hul eie lewe te red.

Die brand is een van 29 wat in hierdie stadium van die Oregon-grens tot net noord van Mexiko woed. Duisende kilometer grond het reeds afgebrand en minstens 14 mense het al gesterf. Minstens 4 000 strukture in Kalifornië is verwoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.