Brand op skip by Sri Lanka eindelik geblus

Rook trek uit die Singapoer-geregistreerde X-Press Pearl. (Foto: Lakruwan WANNIARACHCHI / AFP)

Die brand op ’n vragskip aan Sri Lanka se kus is Dinsdag ná ’n internasionale brandbestrydingspoging van byna twee weke lank geblus.

Maroela Media het vroeër berig die Singapoer-geregistreerde X-Press Pearl het sowat 1 500 vraghouers, waaronder 25 ton salpetersuur, vervoer toe ’n brand op 20 Mei uitgebreek het terwyl die skip gewag het om die Colombo-hawe binne te vaar.

Die brand het vermoedelik ontstaan toe van die salpetersuur op die 186 m lange skip uitgelek het.

Dharshani Lahandapura, voorsitter van die marienebewaringsowerheid in Sri Lanka (Mepa), sê nou die omvang van die ekologiese skade moet nog bepaal word hoewel hy vermoed dat dit die “ergste nóg in sy leeftyd” mag wees.

Lede van die vloot in Sri Lanka doen opruimingswerk nadat salpetersuur uit die skip tot op die strand gelek het. (Foto: Lakruwan WANNIARACHCHI / AFP)

Lahandapura het vroeër gesê die bemanning was op 11 Mei al bewus daarvan dat salpetersuur uitlek nog voordat hulle Sri Lankaanse water betree het. Die brand kon wel voorkom word as hulle vinnig gereageer het.

Sri Lanka het Maandag met ’n strafregtelike ondersoek na die brand en die mariene besoedeling begin.

Ajith Rohana, polisiewoordvoerder, sê die kaptein en hoofingenieur, albei Russiese burgers, is sedert Maandag al 14 uur lank ondervra. Die derde beampte, van Indië, is ook ondervra.

Volgens Rohana het die polisie die prokureur-generaal vir raad oor die pad vorentoe genader.

’n Hof in Sri Lanka het Dinsdag beveel dat daar op die drie senior bemanningslede se paspoorte beslag gelê word hangende verdere ondersoeke.

Die res van die bemanning is intussen nog onder kwarantyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Cherokee

Wonder waar het die vuurblussers al die water gekry wat gebruik is om die vuur te blus!