Brand op skip by Sri Lanka kan nog dae lank woed

Die brand woed voort op die X-Press Pearl by Sri Lanka (Foto: Sri Lankaanse haweowerheid – slpauthority/Twitter)

ʼn Internasionale brandbestrydingspoging om ʼn groot brand op ʼn vragskip aan Sri Lanka se kus te blus kan moontlik dae lank duur, het die land se hoof van die vloot Donderdag gesê, te midde van vrese van ʼn groot oliestorting.

Nege skepe van Sri Lanka en drie vaartuie van Indië werk saam met internasionale kenners om die brand op die Singapoer-geregistreerde X-Press Pearl te blus. Die brand het reeds verlede week Donderdag (20 Mei) uitgebreek.

Die vaartuig het sowat 1 500 vraghouers vervoer, insluitend 25 ton salpetersuur toe ʼn brand uitgebreek het terwyl die skip gewag het om die Colombo-hawe binne te vaar.

Die brand het vermoedelik ontstaan toe van die salpetersuur op die 186 meter lange skip uitgelek het. Moesonwinde het die vlamme aangewaai.

Ajunk-admiraal Nishantha Ulugetenne, hoof van die Sri Lankaanse vloot, het gesê die weersomstandighede en die see is tans gunstig. “Ek hoop dat ons binne ʼn paar dae die brand heeltemal kan blus,” het hy aan AFP gesê.

Die marinebewaringsowerheid in Sri Lanka (Mepa) het gesê hy is besorg dat die vaartuig uitmekaar kan breek en olie sal op die strande uitlek. “Die romp van die skip is nie stabiel genoeg sodat ons die skip weg kan sleep nie,” het Dharshani Lahandapura, voorsitter van Mepa, aan AFP gesê.

Die vaartuig, wat nou geanker is, dra 278 ton swaar olie en 50 ton mariene gasolie, het sy gesê.

Lahandapura sê die bemanning was op 11 Mei al bewus daarvan dat salpetersuur uitlek nog voor hulle Sri Lankaanse water betree het en die brand kon voorkom word as hulle vinnig reageer het.

Die skip se operateur, X-Press Feeders of Singapore, het bevestig hulle was bewus van die lekkasie, maar pogings om die lekkende houer in Indië en Katar te los, was onsuksesvol. Hawe-owerhede in dié twee lande het versoeke verwerp omdat hulle nie spesialis-fasiliteite het nie.

Sri Lankaanse owerhede het ʼn formele klag by die polisie ingedien voor regstappe geneem sal word teen die skip se kaptein.

Lahandapura het gesê ʼn groot hoeveelheid olie dreig om uit te lek en die toeriste- en visstreek van Negombo, sowat 40 km noord van die hoofstad, te besoedel. “Ons beste opsie is om die strand skoon te maak en ons vermoed skoonmaakbedrywighede sal weke – indien nie maande nie – voortduur.”

Sri Lankaanse soldate is Donderdag ontplooi om Negombostrand skoon te maak toe vrag van agt houers wat tydens die ontploffing in die see geval het, begin uitspoel het.

ʼn Olietenkskip het verlede jaar in September aan Sri Lanka se ooskus begin brand ná ʼn ontploffing in die enjinkamer. Een bemanningslid is dood. Die brand op die New Diamond-tenkskip het meer as ʼn week lank gewoed en ʼn 40 km lange olielek veroorsaak. Sri Lanka het geëis dat die eienaars die skoonmaakoperasie van $17 miljoen finansier.

Altesaam 25 bemanningslede op die X-Press Pearl is Dinsdag ontruim ná die ontploffing. Twee het geringe beserings opgedoen.

Die brand het op 20 Mei 2021 uitgebreek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.