Brandbestryders spook met groot brand in Londen

Skermgreep uit die video deur die Londense brandweer (Foto: LondonFire/Twitter)

Sowat 100 brandbestryders was Maandag in die suide van Londen in Engeland besig om ʼn brand te bestry. Dik rook hang oor die hoofstad.

Londen se brandweer het gesê die brand het drie kommersiële eenhede onder ʼn spoorweglyn verwoes, asook vier motors en ʼn telefoonhokkie in die Elephant and Castle-gebied, naby die Thames.

Beeldmateriaal op sosiale media wys dik rookwolke bo die eenhede en ʼn ontploffing wat daartoe gelei het dat nooddienspersoneel moet oorneem.

“Daar is nou 15 brandweerwaens en sowat 100 brandbestryders by #ElephantandCastle,” het die brandweer vroeër op Twitter gesê.

Die metropolitaanse polisie het gesê paaie is gesluit en die publiek word aangeraai om die gebied te vermy. “Die voorval hou na alle waarskynlikheid nie met terreur verband nie,” het die polisie bygevoeg.

Die nasionale spoordiens het gewaarsku dat treine gekanselleer of vertraag kan word tot Maandagaand toe.

Die brand is teen laatmiddag onder beheer gebring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.