Brande in Australië bereik krisispunt

‘n Veldbrand Donderdag sowat 90 kilometer noordwes van Sydney. (Foto: Mick Tsikas, AP)

Die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis het sy tweede weeklange noodtoestand verklaar te midde van sowat 100 verwoestende veldbrande wat tans in dié staat woed. Die staat het verlede maand ook ʼn noodtoestand verklaar.

Die situasie het egter Donderdag ʼn nuwe krisispunt bereik en sowat 2 000 brandbestryders spook tans om die veldbrande te blus.

The Guardian berig drie brandbestryders is in ʼn hospitaal opgeneem met ernstige brandwonde en 20 eiendomme is reeds vandeesweek beskadig.

Die temperatuur in Sentraal-Sydney het vandag ’n maksimum van 39 grade Celsius bereik en in die voorstede buiteom die stad het die kwik tot 42 grade Celsius gestyg. Die warmste dag tot dusver was egter Dinsdag met ʼn gemiddeld van 40,9 grade Celsius reg oor die land.

Die Australiese vuurseisoen het vanjaar vroeër as gewoonlik begin, ná ʼn buitengewone warm en droë winter.

Brandbestryders Donderdag by ‘n landelike gebied naby die dorp Tahmoor, suidwes van Sydney. (Foto: Dean Lewins, AP)

Gladys Berejiklian, premier van Nieu-Suid-Wallis, het gesê die owerhede is bekommerd oor die onvoorspelbare weerstoestande.

“Die uiterste windtoestande en warm temperature gee ons ʼn idee van watter gebiede die ergste geraak word, maar brande kan onvoorspelbaar opvlam in sulke onstuimige weerstoestande,” het Berejiklian aan verslaggewers gesê.

’n  Landswye verbod op brandstigting is Dinsdag aangekondig en sal tot middernag op Saterdag geld. Veldbrande woed ook in Queensland, Suid-Australië en Wes-Australië.

Ongeveer 3 miljoen hektaar grond het oor die afgelope paar maande reg oor die land afgebrand. Ses mense is tot op hede dood en meer as 800 huise is vernietig.

Die Harborbrug in Sydney in rook gehul. (Foto: Xinhua/Bai Xuefei)

Sydney se lugbesoedelingsvlakke het Donderdag die hoogte in geskiet. Die stad word reeds die afgelope maand in rookwolke gehul.

Plaaslike hospitale het die afgelope week ʼn 10%-toename in pasiënte met respiratoriese toestande aangemeld. Die Australiese mediese vereniging beveel aan dat mense gehidreer en uit die son bly.

Maroela Media het vroeër berig Australië is die droogste kontinent naas Antarktika en wetenskaplikes sê Australië is daarom besonder vatbaar vir uiterste weerstoestande wat verband hou met klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.