Die verwoestende brande in Australië gaan ongetwyfeld dié land se toerismebedryf duur te staan kom met die impak daarvan wat na raming sowat 4,5 miljard Australiese dollar teen die einde van vanjaar sal beloop.
Die Australiese toerismeraad in Sydney het ’n opname oor die land se toerismebedryf gedoen te midde van die brande wat die land tans lamlê. Dié opname het bevind dat internasionale besprekings aansienlik afgeneem het vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar.
Peter Shelley, besturende direkteur van die raad, het Vrydag gesê 70% van die raad se 850 lede het talle kansellasies aangemeld deur internasionale besoekers wat van plan was om Australië te besoek. Die waarde van dié kansellasies wissel van 5 000 Australiese dollar tot ʼn halfmiljoen Australiese dollar.
Internasionale besoekers dra jaarliks sowat 45 miljard dollar tot die plaaslike ekonomie by met besprekings wat gewoonlik tussen Desember en einde Februarie verwag word.
Volgens Shelley is die meeste groepe wat vakansies na Australië gekanselleer het van die VSA, Brittanje en Europa. Die besoekers is besorg oor die land se lugkwaliteit, veiligheid en die impak van die verwoestende brande op die land se toeristeaantreklikhede, sê Shelley.
Die raad verwag ’n 10% afname in internasionale besoekers vanjaar. “Daar is geen twyfel dat ons bedryf ʼn knou sal kry nie,” sê Shelley.
Die brande woed sedert September in groot dele van Australië met meer as 11,8 miljoen hektaar wat verwoes is. Soveel as 28 mense is dood en meer as 1 miljard diere is deur die brande geraak.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
Ek kuier in Australie,,dit reen heerlik hier. Al die dank en eer aan ons Vader wat uitkoms gestuur het. Dit was ook bitter droog en warm. Dankie vir al die gebede oor die wereld
Hoekom Australïe droëe hout opgaar vir dekades en niemand toelaat om dit te brand of gebruik nie..is wat hierdie rampe veroorsaak.
As ek as toeris mos kies tussen Suid Afrika en Australie, dan kies ek honderd maal Australie. Brande en rook ten spyte.
Ek stem beslis saam. Ten minste kan ek en my wyfie meerkat saans rustig en veilig gaan slaap na ‘n dag se veilige toer. Selfs in die Kruger Wildtuin is kriminele met outomatiese wapens.