Branderplankryer sterf in haai-aanval

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Peter PARKS / AFP)

ʼn Australiese branderplankryer is dood nadat hy Dinsdagoggend deur ʼn haai in die water by ʼn strand noord van Sydney aangeval is.

Dié voorval is Australië se eerste noodlottige haai-aanval vanjaar.

Plaaslike paramedici is vanoggend na Tuncurry Beach, ongeveer drie uur per motor van Sydney, ontbied waar noodhulp inderhaas op ʼn man, vermoedelik in sy 50’s, toegepas is.

“Die man kon egter nie bygebring word nie, ondanks paramedici en omstanders op die toneel se beste pogings,” lui ʼn twiet deur Nieu-Suid-Wallis se ambulansdiens.

ʼn Woordvoerder van die ambulansdiens het intussen aan AFP gesê die man se hart het gaan staan nadat hy gedurende die aanval in die bobeen gebyt is.

Die staatsorganisasie SharkSmart Nieu-Suid-Wallis het ná die voorval gesê alle strande in die omgewing word tot verdere kennisgewing gesluit.

Volgens die Taronga Conservation Society Australia is dit die eerste noodlottige haai-aanval wat vanjaar in Australiese waters aangeteken is.

Dít nadat 26 haai-aanvalle verlede jaar in dié land aangemeld is. Agt van dié aanvalle was noodlottig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudolph ·

Jammer vir sy naasbestaandes. Ek is bly Australië gebruik nie haainette nie want dit veroorsaak baie onnodige sterftes onder haaie. Mense wat in die see swem of branderplank ry weet dat hulle dit op eie risiko doen net soos mense wat motorfiets ry, bergklim, valskermspring. Ek respekteer hulle dapperheid en ondersteun enige aktiwiteit solank dit nie van mens of dier ‘n slagoffer maak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.