Branderplankryers in Mexiko vermoor

Callum en Jake Robinson. (Foto: Instagram)

Twee Australiese broers en ’n Amerikaanse vriend wat tydens hul vakansie in Mexiko vermis geraak het, se liggame is intussen in ’n diep put in die noorde van dié land gevind.

Al drie jong mans het skietwonde aan hul kop gehad.

Jake en Callum Robinson van Australië en Jack Carter Rhoad van die Verenigde State het in Mexiko gekamp toe hulle verlede naweek vermis geraak het.

Jake, Callum en Jack se gesinne het op 27 April laas van hulle gehoor. Hulle was veronderstel om by ’n Airbnb in die kusdorp Rosarito tuis te gaan, maar het nooit opgedaag nie.

The Sydney Morning Herald berig Maria Elena Andrade Ramirez, hoofstaatsaanklaer, sê rowers het vermoedelik by hul kampterrein verbygery, hul tente en voertuig gesien en wou hul bande steel.

Die broers en hul vriend het hul vermoedelik teëgesit en is toe doodgeskiet.

Callum en Jake Robinson en Jack Carter Rhoad was aanvanklik as vermis aangemeld. (Foto: X)

Die rowers is volgens Ramirez daarna na ’n onherbergsame terrein  waar hulle die liggame in ’n put gegooi het. Die put is sowat 15 meter diep en naby die noordelike stad Ensenada – nie ver van die Amerikaanse grens nie.

Ramirez sê ondersoekers sluit in die stadium nie die moontlikheid uit dat dieselfde verdagtes vroeër ’n vierde onverwante liggaam in die put gestort het nie. Die liggaam is vroeër ook in dié put gevind.

Drie verdagtes word tans in verband met die moorde ondervra.

Callum het in die VSA gewoon waar hy hom beywer het om ’n professionele lacrosse-speler te word, Jake het sowat twee weke gelede uit Australië na die VSA gevlieg om vir sy broer te gaan kuier voordat hulle en ’n vriend na Mexiko is om te gaan branderplankry.

Die drie vriende het kort voor hul dood idilliese foto’s van hul vakansie op sosiale media geplaas – foto’s van golwe en afgesonderde strande suid van Ensenada.

Baja California is een van Mexiko se gewelddadigste state, hoewel die Ensenada-gebied as veiliger beskou word. Die Amerikaanse regering het Amerikaners aangeraai om reis na die staat te heroorweeg weens misdaad en ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Nou het ek al alles gesien.Selfs in Mexico is jy nie veilig nie.

Jo-Anne ·

Dis een van daai lande waar jy ver wegbly. Drug cartels regeer daai land. Hulle moor voor die voet.

Aai ·

Mexico is glad nie veilig Cancun is redelik veilig was al daar toeriste aantreklikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.