Brandgevaar: Australiese vakansiegangers moet kusgebied verlaat

Motoriste ry op ‘n Australiese snelweg in rook gehul. (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Vakansiegangers aan die suidoostelike kus van Australië het Donderdag te midde van ’n brandgevaar gesukkel om dié gebied te verlaat weens ’n tekort aan brandstof.

Die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis se brandweerdiens het vakansiegangers Woensdagaand in ’n waarskuwing op sosiale media gemaan om so spoedig moontlik die omgewing te verlaat te midde van “soortgelyke of erger brandtoestande” wat in dié gebied verwag word.

Dit volg nadat agt mense verlede week omgekom het in veldbrande wat in dié kusgebied gewoed het. Sowat 300 huise is ook in puin gelê.

“As jy aan die Suidkus vakansie hou, veral in die omgewing van Batemansbaai tot by die Victoriaanse grens, … moet jy voor komende Saterdag vertrek. As jy van plan is om die Suidkus oor die naweek te besoek; dit is nie veilig nie. Sorg dat jy nie Saterdag in hierdie gebied is nie,” lui die brandweerdiens se waarskuwing.

‘n Veldbrand Woensdag in Bairnsdale in Australia. (Foto: Glen Morey, AP)

Die Suidkus is baie gewild onder Australiese vakansiegangers, veral gedurende die feestyd. Vakansiegangers het teen vanoggend in lang toue gestaan in ’n poging om brandstof, kos en water te bekom.

Andrew Constance, die land se minister van vervoer, sê dit is die grootste massa-ontruiming van dié streek wat die land nóg gesien het. “Mense staan ​​in toue om by vulstasies in te kom. Jy kan nie met ʼn leë tenk vertrek nie, want elektrisiteit is op baie plekke af. Ons het nodig dat mense goed beplan,” sê Constance.

Scott Morrison, eerste minister van Australië, het mense wat deur die waarskuwing geraak word, gevra om kalm te bly. Volgens Morrison word daar tans alles moontlik gedoen om te verseker dat die ontruiming glad verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.