Brexit: Big Ben kondig geskiedkundige oomblik aan

Die Big Ben-kloktoring in Londen het die presiese oomblik wat die post-Brexit-handelsooreenkoms in werking getree het, Donderdagaand aangekondig. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Brittanje het amptelik die Europese Unie (EU) se gemeenskaplike mark verlaat.

Die bekende Big Ben-kloktoring in Londen het Oujaarsaand om 23:00 Britse tyd (middernag in Europa) die presiese oomblik wat die post-Brexit-handelsooreenkoms in werking getree het, aangekondig.

Dít volg sowat vier en ’n half jaar ná Brittanje se geskiedkundige besluit om die blok te verlaat.

Die Britse premier, Boris Johnson, het dit as ’n “wonderlike oomblik” vir Brittanje bestempel nadat hy hom vroeër daartoe verbind het dat Brittanje ná Brexit ’n “oop, vrygewige en vryhandel” land sou wees.

Franse doeanebeamptes staan Donderdagaand by die Eurotonnel in Coquelles in die noorde van Frankryk. (Foto: Lewis Joly / POOL / AFP)

“Ons het ons vryheid in ons hande en ons moet dit optimaal benut,” het die premier gesê.

Brittanje het na regte reeds op 31 Januarie verlede jaar aan die EU onttrek waarna hy ’n oorgangsperiode ingegaan het. Talle gesprekke oor ’n vryhandelsooreenkoms is die afgelope 11 maande in Brussel gevoer waarna ’n handelsooreenkoms uiteindelik op Oukersaand beklink is.

Die oorgangstydperk is nou amptelik verby en EU-reëls is nie meer van toepassing op Brittanje nie. Dit bring ’n einde aan die vrye beweging van meer as 500 miljoen mense tussen Brittanje en die 27 EU-lidlande.

Noukeurige kontrole by die land se grensposte sal vir die eerste keer in dekades weer ingestel word en lang toue en bykomende papierwerk word nou by die grense verwag. Dít ondanks die vryhandelsooreenkoms wat Brittanje voortgesette toegang tot byna 450 miljoen verbruikers in Europa bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.