Brexit: ‘Impak op ekonomie nog nie geassesseer’

brexit

Foto: Pixabay.com

David Davis, die Britse minister wat verantwoordelik is vir Brexit, het Woensdag gesê Brittanje het nog nie ʼn formele sektor-tot-sektor-analise gedoen oor die impak wat die onttrekking uit die Europese Unie (EU) op die ekonomie sal hê nie, omdat dit volgens hom nog nie nodig was nie.

Die kommentaar het kritici laat kap na die regering oor hul hantering van die ingewikkelde proses om hom van die EU los te maak in ʼn tyd wanneer gesprekke met Brussel tot stilstand gekom het weens ʼn verskil oor hoe om die Ierse grens te bestuur ná Brexit.

Davis is gewikkel in ʼn voortslepende argument met wetgewers – insluitend die regerende Konserwatiewe Party – oor die voorbereidingswerk wat die regering doen en hoeveel daarvan aan die publiek bekendgemaak moet word. “Daar is geen sistemiese impaksassessering waarvan ek bewus is nie,” het Davis aan ʼn parlementêre komitee gesê.

Hy het gesê dit sal meer gepas wees om later in die onderhandelingsproses ʼn analise te doen. Sy uitspraak het onmiddellik kritiek van wetgewers op die komitee ontlok wat gesê het Davis weerspreek sy vorige stelling dat die regering die sektorale analises het van die impak wat in fyn besonderhede weergegee word.

“Of dit nou deur onbevoegdheid of oneerlikheid is, Davis het die parlement van die begin af mislei,” het Wera Hobhouse, ʼn lid van die Liberale Demokrate op die Brexit-komitee, gesê. “Dit is ongelooflik dat hierdie impaksassesserings, waaroor daar al lank gepraat word, nie bestaan nie, wat beteken die regering het geen idee wat hul Brexit-planne aan die land sal doen nie.”

Die parlement kan ʼn beslissende rol in die Brexit-proses speel indien dit wetgewing wat die regering voorgestel het om die uittrede te implementeer, blok of wysig. Premier Theresa May het slegs ʼn klein werkende meerderheid in die parlement en is kwesbaar vir rebellie binne haar eie party, wat verdeeld is oor die regte benadering tot Brexit.

Davis en sy span ministers het vroeër gesê hul sektor-analise is nie ʼn formele impaksassessering nie, en deur die werk wat al gedoen is te publiseer, kan Brittanje se onderhandelingsposisie ondermyn word. Wetgewers het nietemin druk op die regering geplaas om ʼn opsomming van sy analise aan die komitee beskikbaar te stel. Woensdag het hulle gekla dat die analise wat vir hulle gegee het onvolledig is en min besonderhede bevat.

“Ons sal in ʼn stadium ons bes doen om die effek van die verskillende onderhandelingsuitkomste te kwantifiseer soos ons by hulle uitkom – met inagneming dat ons nog nie met fase twee begin het nie,” het Davis gesê met verwysing na die tweede fase van gesprekke wat op handel sal fokus.

Hy het gesê daardie assesserings sal kyk na die impak van die verskillende uitkomste op sektore, insluitend finansiële dienste, vervaardiging en landbou.

-Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.