Brexit: Ja of nee?

brexit1Stemlokale oor die hele Brittanje is reeds oop met Britte wat ʼn geskiedkundige besluit moet neem oor die land se voortgesette deelname aan die Europese Unie (EU).

Die stemlokale sluit Donderdag om 22:00 (23:00 Suid-Afrikaanse tyd). Die vraag wat gevra word, is: “Moet die Verenigde Koninkryk ʼn lid bly van die EU of nie?” Die besluit sal verreikende gevolge hê vir die EU en VK se ekonomie en buitelandse beleid, sowel as op die samestelling van die Britse regering. Die referendum is gedoop “Brexit” wat eintlik maar ʼn kombinasie is van “Britain” en “exit”.

Brittanje het in 1973 by die EU aangesluit toe dit nog as die Gemeenskapsmark bekend gestaan het. Met Brittanje se aansluiting was daar slegs nege lidlande. Die getal staan nou op 28 met Roemenië, Bulgarye en Kroasië wat onlangs aangesluit het. Vyf ander lande word tans oorweeg vir lidmaatskap.

Die twee verskillende kampe – naamlik die Ja-stem en die Nee-stem – voer verskillende redes aan oor hoekom Brittanje die EU moet verlaat of moet bly. Volgens die Ja-stemmers kos die EU Brittanje weekliks sowat £350 miljoen. Die ander redes is “vrye beweging van mense” in EU-lidlande, Brittanje wat nie op sy eie handelsooreenkomste kan sluit nie en EU-wetgewing wat Brittanje se wetgewing troef en tot gevolg het dat die land se inwoners nie die politici wat wetgewing daarstel, kan uitstem nie.

Só lyk die stembrief.

Só lyk die stembrief.

Die Nee-stemmers meen Brittanje sal “sterker, veiliger en beter af” wees as deel van die EU. Volgens dié kamp sal Brittanje sterker wees aangesien die land ’n hoofrol sal kan speel in Europa, veiliger aangesien samewerking met Europese buurlande sal beteken die land is meer doeltreffend in die geveg teen terreur of ander gevare, en beter af aangesien Britse sakeondernemings volle deelname sal hê in die EU se tariefvrye handelsgebied.

Die uitslag van die referendum sal na verwagting eers deur die loop van Vrydag bekend wees.

Diegene wat in die referendum wil stem, moet onder meer 18 jaar of ouer wees; ʼn Britse of Ierse burger wees wat in Brittanje woon; ʼn Statebond-burger wees wat toestemming het om in Brittanje te woon of nie toestemming benodig om daar te woon nie; ʼn Britse burger wat oorsee woon, maar in die afgelope 15 jaar geregistreer is om te stem; of ʼn Ierse burger wat oorsee woon wat in Noord-Ierland gebore is en in die afgelope 15 jaar geregistreer is om daar te stem. Stemgeregtigdes moet by stemlokale gaan stem, maar kan ook per volmag stem of deur die pos stem as hulle vroegtydig hiervoor aansoek gedoen het.

Lees ook: Wat hou ‘Brexit’ vir die wêreld in?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae