Brexit: Markte reageer

brexit2Die finansiële markte het Vrydag skerp reageer nadat Brittanje in ʼn referendum besluit het om die Europese Unie (EU) te verlaat.

Die jongste syfers dui daarop dat 51,7% van Britte gestem het dat Brittanje die EU moet verlaat terwyl 48,3% wou bly.

Kort nadat dit aan die lig gekom het dat die Britte besluit het om die EU te verlaat, het die pond begin verswak en het die kredietgraderingsagentskap S&P bevestig dat die Verenigde Koninkryk waarskynlik sy finale AAA-kredietgradering sal kwyt wees.

Die Britse geldeenheid het tot $1,3 teenoor die Amerikaanse geldeenheid geval, sy laagste punt in drie dekades. Dit het gevolg ure ná dit ʼn 2016-hoogtepunt van $1,50 getref het. Die rand het intussen ook teen die dollar verswak. Die prys van Brent-ruolie het met 5% gedaal tot $48,3 per vat.

Alle oë is intussen vanoggend op die Britse premier David Cameron wat ten gunste was daarvan dat Brittanje ʼn lid van die EU gebly het. Die uitslag sal heel moontlik ʼn negatiewe uitwerking op sy posisie hê.

Die referendum is gedoop “Brexit” wat eintlik maar ʼn kombinasie is van “Britain” en “exit”.

Brittanje het in 1973 by die EU aangesluit toe dit nog as die Gemeenskapsmark bekend gestaan het. Met Brittanje se aansluiting was daar slegs nege lidlande. Die getal staan nou op 28 met Roemenië, Bulgarye en Kroasië wat onlangs aangesluit het. Vyf ander lande word tans oorweeg vir lidmaatskap.

Die twee verskillende kampe – naamlik die Ja-stem en die Nee-stem – het verskillende redes aangevoer oor hoekom Brittanje die EU moet verlaat of moet bly. Volgens die Ja-stemmers kos die EU Brittanje weekliks sowat £350 miljoen. Die ander redes is “vrye beweging van mense” in EU-lidlande, Brittanje wat nie op sy eie handelsooreenkomste kan sluit nie en EU-wetgewing wat Brittanje se wetgewing troef en tot gevolg het dat die land se inwoners nie die politici wat wetgewing daarstel, kan uitstem nie.

Die Nee-stemmers meen Brittanje sal “sterker, veiliger en beter af” wees as deel van die EU. Volgens dié kamp sal Brittanje sterker wees aangesien die land ’n hoofrol sal kan speel in Europa, veiliger aangesien samewerking met Europese buurlande sal beteken die land is meer doeltreffend in die geveg teen terreur of ander gevare, en beter af aangesien Britse sakeondernemings volle deelname sal hê in die EU se tariefvrye handelsgebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.