Brexit: May sê vandag oor haar Plan B

Theresa May. (Foto: AP Photo/Frank Augstein)

Alle oë is vandag op die Britse laerhuis waar premier Theresa May haar Plan B sal voorlê vir die Verenigde Koninkryk se onttrekking aan die Europese Unie.

May het verlede week gesê sy sal fokus op gesprekke tussen die politieke partye om ʼn Brexit-ooreenkoms op te stel wat deur die parlement aanvaar sal word. Daar word verneem dat sy nou probeer om goedkeuring van haar eie Konserwatiewe Party te kry, aangesien dit onwaarskynlik is dat die plan wye ondersteuning van die Arbeidersparty sal geniet.

Intussen het Keir Starmer, die Arbeidersparty se woordvoerder oor Brexit, Saterdag aangedui dat die party sal voortgaan om hom te beywer vir ʼn verkiesing om die dooiepunt oor die Brexit-ooreenkoms op te los. “Woensdag se mosie van wantroue [in May] was net die begin van die Arbeiders se pogings om ʼn algemene verkiesing te verseker – nie die einde nie,” het Starmer gesê.

“Om ʼn algemene verkiesing te verseker is en sal altyd ons eerste prioriteit wees, aangesien dit die enigste manier is om die radikale verandering in hierdie land te bring wat nodig is.”

Gerugte doen sedert die naweek die ronde dat May dalk kan besluit om self ʼn verkiesing aan te kondig, wat beteken die Arbeiders sal hul sin kry sonder om die kwessie af te dwing. Financial Times het berig senior beamptes het “gebeurlikheidsplanne vir ʼn verkiesing” bespreek. Drie kabinetsministers het aan die koerant gesê ʼn verkiesing is ʼn moontlikheid.

May het tot dusver oproepe vir ʼn verkiesing verwerp en gesê sy is op soek na “konsensus” in haar gesprekke met wetgewers van al die partye.

Kritici het May daarvan beskuldig dat sy ʼn openbare veldtog loods terwyl sy individuele wetgewers probeer oortuig om ʼn aangepaste weergawe van haar Brexit-ooreenkoms te ondersteun. Starmer het gesê die Arbeiders sal nie May se ooreenkoms “of enige aangepaste weergawe wat aan die lig kom” ondersteun nie.

May het reeds twee jaar gelede art. 50 in werking gestel wat Brittanje se amptelike kennisgewing was om hom binne twee jaar aan die Europese Unie te onttrek. Sedertdien kon May nog nie ʼn plan ter tafel lê waarmee die laerhuis tevrede is nie. Dit het tot erge onsekerheid en protesaksies in die land gelei terwyl 29 Maart, die dag waarop Brittanje die EU moet verlaat, al nader kruip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JAN ·

Probeer weer.
In SA het plan A 50 jaar gelede begin. Geeen Plan B was / is geduld nie. Dit was reeds op die Turnhalle beraad duidelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.