Brexit word amptelik ʼn werklikheid

Theresa May, Britse premier, onderteken die amptelike brief om Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) te begin. Foto: Christopher Furlong/Pool Photo via AP

Brittanje het Woensdag amptelik begin met die proses om die Europese Unie (EU) te verlaat met ʼn brief wat deur Theresa May, Britse premier, aan die leiers van die handelsblok gestuur is.

“Dit is ʼn historiese oomblik met geen omdraaikans nie,” het May in die parlement gesê. “Ons is op soek na ʼn moedige en ambisieuse handelsooreenkoms met die EU.”

May het die parlement in Westminster toegespreek terwyl die Britse ambassadeur by die EU, sir Tim Barrow, persoonlik die brief aan Donald Tusk, president van die Europese Raad, oorhandig het. Dit is die begin van ʼn twee jaar lange tydperk van onderhandelinge oor ʼn toekomstige verhouding tussen Brittanje en die EU. Deur amptelike kennis onder artikel 50 van die Lissabon-verdrag te gee, het die brief die Brexit-proses amptelik aan die gang gesit.

“Die besluit is geensins ʼn verwerping van die waardes wat ons as mede-Europeërs deel nie. Brittanje wil hê die EU moet suksesvol en voorspoedig wees,” lui die brief.

Die brief kom byna nege maande nadat die Britte amptelik ten gunste van Brexit gestem het met ʼn meerderheid van 51,9%.

Tensy albei partye instem om die sperdatum vir die afhandeling van die onderhandelinge te verleng, sal Brittanje die EU amptelik in Maart 2019 verlaat.

Die EU en Brittanje het dus twee jaar om onderhandelings oor die uittrede af te handel. Ná twee jaar sal Brittanje outomaties die EU verlaat, of die onderhandeling afgehandel is of nie.

As Brittanje egter die EU verlaat sonder dat daar op ʼn formele ooreenkoms of oorgansmaatreëls besluit is, sal dit negatiewe gevolge vir Britse handel en dienste met die EU inhou, asook vir die EU se handel en dienste in Brittanje.

Brittanje, wat 44 jaar gelede by die EU aangesluit het, is die eerste nasie van die 28-lid handelsblok om die EU te verlaat. Dit laat ʼn onsekere pad vir Brittanje ná sy uittrede uit die EU. Martin Wolf, ʼn ekonoom en verslaggewer, het aan die nuusagentskap Xinhua gesê die uittrede uit die EU is slegs die eerste stap op die pad vorentoe. “Ons sal ʼn nuwe handelsbeleid moet vestig wat ons waarskynlik 20 jaar sal neem,” het Wolf gesê.

Nigel Farage, voormalige leier van die Britse Onafhanklike Party, het Woensdag getwiet: “Die onmoontlike droom word werklikheid. Vandag is ons verby die omdraaipunt.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jcwf ·

Dit was die winter van 59-60 en burgemeester Slobbe het ons kinders genooi vanweë die nuwe Europa wat aan Nederland nuwe hoop en ‘n ongelooflike ekonomiese boom gegee het. Voor 1957 -die verdrag van Rome was ons mos arm en wanhopig. Oh as kind het ‘n genoeg om te eet gekry maar nie meer as dit nie. On Sondag dalk net ‘n klein stukkie vleis. My oom het na Suid-Afrika vertrek. Maar nou was die grense oop en alles het skielik verander. Franse, Hollanders, Duitsers het hulle trots geoffer en angs oorwin daarvoor en dit is wonderlik geseën. Ek het ‘n petjie gedra wat groen en wit van kleur was en die burgemeester het my geprys want die vlag van die Europese Beweging was ‘n groot groen E op ‘n veld van wit. Maar hierdie vlag het nooit ons Europese vlag geword want toe het die Engelse gekom om te profiteer van alles waarvoor ons offers gebring het. Die groen E was nie vir hulle aanvaardbaar nie, want ons rederalisme was natuurlik poppycock. Hulle het ons wil verdeel en oorheers. Hulle het ons 44 jaar gesaboteer en probeer om ons tot hulle imperium te maak, maar dit het gefaal en gefaal en gefaal. Nou gaan hulle vortsek. Ek is gelukkig. Good riddance Maar ek wil wel my vlag terug!

christine ·

Wonder ek nou. Gestel SA en die hele Afrika mislik van hier onder af tot in Sodan, wat gaan die Britse koningryk doen as biljoene mense wat hulle nog nooit aan reels of wette gesteur het nie , sonder dak, naak, honger en dors eenvoudig onbeheerbaar op haar toesak. Brexit of nie wonder maar net.

Michael ·

Begin van die since vir Ingeland. Siener her gese by sien die Ingelse vrou pragtig aangetrek end versier maar naderhand staan sy heeltemal kaal, hongersnood in ingeland, burgeroorlog look hulle voorland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.