Brit-musiekpryse verwyder geslagskategorieë

Dua Lipa vroeër vanjaar op die verhoog by die Brit Awards. (Foto: John Marshall / John Marshall / AFP)

Dua Lipa en J Hus is die laaste musikante wat met die toekennings vir onderskeidelik beste vroue- en manskunstenaar by die gesogte Brit‑toekennings vereer is.

Die organiseerders van die toekenningsgeleentheid het intussen die besluit geneem om dié twee kategorieë te skrap en vanaf 2022 ʼn gekombineerde prys vir beste Britse kunstenaar te skep.

Kunstenaars soos Sam Smith en Will Young het voorheen ʼn beroep om dié verandering gedoen en gesê die huidige stelsel sluit nie-binêre kunstenaars uit.

Nie-binêre mense identifiseer nie met manlik of vroulik nie en hulle geslagsidentiteit stem ook nie ooreen met streng kassies van ander geslagsnorme nie.

Smith, wat as nie-binêr identifiseer, is nie vanjaar vir ʼn toekenning benoem nie. Smith se album, Love Goes, het die no. 2-posisie op die VK-treffersparade gehaal, maar die kunstenaar het gevoel die album kan nie vir geslagsgebaseerde kategorieë ingeskryf word nie.

Smith het op Instagram geskryf dat toekenningsgeleenthede “meer ʼn weerspieëling van die samelewing” behoort te wees.

“Die Brits was nog altyd ʼn belangrike deel van my loopbaan. Musiek gaan nog altyd vir my oor vereniging en nie verdeling nie. Ek sien uit na ʼn tyd wanneer toekenningsgeleenthede ʼn weerspieëling kan wees van die samelewing waarin ons leef. Kom ons vier almal, ten spyte van geslag, ras, ouderdom, seksualiteit of klas.”

Die Brits word al sedert 1977 uitgedeel, met die Britse Annie Lennox wat al die meeste vrouetoekennings (ses) en Robbie Williams die meeste manstoekennings (vier) ingeoes het. Hoewel organiseerders reeds in 2019 onderneem het om die pryskategorieë te hersien, het die mans‑ en vrouekategorieë tot dusver nie verander nie.

Sam Smith. (Foto: Facebook via MTV EMA’s)

Die nuwe skuif sal ook in die internasionale kategorie weerspieël word, waar die beste internasionale mans‑ en vrouekunstenaars – wat vanjaar onderskeidelik The Weeknd en Billie Eilish was – vervang sal word deur ʼn enkele prys vir beste internasionale kunstenaar.

ʼn Eretoekenning vir liedjieskrywer van die jaar is ook bygevoeg. Tom March, medepresident van Polydor Records, wat vanjaar ook voorsitter van die Brit-toekennings is, het gesê: “Dit is belangrik dat die Brits voortgaan om te groei en poog om so inklusief as moontlik te wees.”

Die seremonie wat op 8 Februarie volgende jaar in die O2 Arena in Londen plaasvind, sal vir die eerste keer deur Mo Gilligan aangebied word. Die komediant en akteur Jack Whitehall het die laaste vier seremonies aangebied.

Gilligan is die eerste persoon van kleur wat die geleentheid sal aanbied sedert 1994 toe RuPaul saam met Elton John die seremonie aangebied het.

Die MTV VMA-toekennings is sedert 2017 geslagsneutraal terwyl die Emmy-toekennings nie-binêre akteurs erken deur hulle toe te laat om “kunstenaars” genoem te word eerder as akteur of aktrise.

Bronne: BBC, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

Hoekom nie net n nie – binere katergorie insluit nie, nou word manlike en vroulike kunstenaars benadeel om n baie klein groepie gelukkig te hou.

Onnie ·

Ai, ek gee werklik nie om nie, solank die beste sanger wen. Maar is dit werklik nodig dat die LGBTQ gemeenskap altyd so ‘n issue van als moet maak? Eks nie lelik nie, maar dis amper soos Mal Emma wat vir elke ding RASSISME skree. Cool it.

Jan Seerot ·

Sam, eers wonder ek of dit Samuel of dalk Samantha is, maar jou foto is vir seker Samuel. Hoe op hierdie aarde kan jy nie binêr wees nie. Of is dit maar net jou bloeiende hart?
Net so bietjie ekstra aandag.
Dit is jý wat nie jou treffer wou inskryf nie.
Daar is niks wat jou oorkom wat jy nie aan jouself gedoen het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.