Britney se pa onthef van rol as voog

Britney Spears in Julie 2019. (Foto: Valerie Macon/AFP)

ʼn Regter het die bevel opgeskort wat die Amerikaanse sangeres Britney Spears se pa beheer oor haar lewe gegee het nadat sy hom van jare se misbruik beskuldig het.

Jamie Spears is in 2008 as Spears se voog aangestel te midde van kommer oor haar geestesgesondheid. ʼn Regter het Woensdag dié rol oorgegee aan ʼn voog wat deur Spears se eie regspan aangewys is.

Jamie Spears, wat alle bewerings van misbruik teen hom ontken, het aansoek gedoen om die voogdyskap te beëindig nadat Spears ʼn nuwe voog versoek het.

Aanhangers wêreldwyd het haar ondersteun deur die #FreeBritney-veldtog.

ʼn Voogdyskap word in die hof toegestaan vir individue wat nie in staat is om sy of haar eie besluite te neem nie. Dit sluit in mense met demensie en ander geestesgesondheidskwale.

Spears se voogdyskap is in twee dele verdeel – een vir haar boedel en geldsake, en die ander vir haar as mens. Ingevolge die ooreenkoms het sy sedert 2008 glad nie beheer oor haar eie geldsake gehad nie.

Jamie Spears was aanvanklik in beheer van albei dele van die voogdyskap, maar het weens gesondheidsredes in 2019 uitgetree as sy dogter se persoonlike voog. Jodi Montgomery, ʼn professionele versorger, het daarna op ʼn tydelike basis dié rol vervul.

Tydens ʼn hofsaak in Los Angeles het regter Brenda Penny formeel die voogdyskap deur die ster se pa beëindig, maar ʼn afsonderlike voogdyskap ingestel met ʼn rekenmeester wat deur Spears se regspan aangewys is.

Jamie Spears het egter aangevoer die rekenmeester, John Zabel, is nie gekwalifiseerd om die sanger se fortuin van $59 miljoen (sowat R900 miljoen) te bestuur nie.

Die regter het beslis dat die sangeres se sorg voortaan aan Zabel oorgelaat word en het gesê dat dit in die sangeres se beste belang is.

Spears se prokureurs het egter versoek dat ʼn nuwe verhoor binne die volgende 30 tot 45 dae gehou word om die besluit of die voogdyskap in die geheel beëindig moet word.

Spears se stryd met haar geestesgesondheid en die howe het massiewe openbare belangstelling veroorsaak, met drie dokumentêre oor haar lewe wat net in die laaste week bekend gestel is.

Aanhangers het Woensdag voor die verhoor na die hof opgeruk en haar treffer “Baby One More Time” gesing. Aanhangers in Londen het ook Woensdag ʼn #FreeBritney-optog op Trafalgar-plein gehou.

Spears was nie self in die hof nie.

Sy het op 23 Junie 20 minute lank emosioneel in die hof getuig en het teen die ooreenkoms met haar pa uitgevaar.

Sy het hom onder meer daarvan beskuldig dat hy haar teen haar wil in ʼn geestesgesondheidsfasiliteit gehou het en haar gedwing het om medikasie en voorbehoedmiddels te gebruik wat haar sou keer om swanger te raak.

“Ek wil net my lewe terug hê. Ek glo die voogdyskap is misbruik.”

Britney Spears se pa, Jamie Spears. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Spears het weer op 14 Julie in die hof getuig en aan die regter gesê sy wil ʼn klag van die misbruik van die voogdyskap teen haar pa indien.

“As dit nie misbruik is nie, dan weet ek nie wat is nie,” het sy bygevoeg.

Jamie Spears het die bewerings van misbruik teen hom ontken en in hofstukke aangevoer dat hy “net die beste vir sy dogter wil hê”.

“As Spears die voogdyskap wil beëindig en glo dat sy haar eie lewe kan beheer, glo Jamie Spears dat sy die kans behoort te kry om dit te doen,” het sy prokureurs vroeër vandeesmaand gesê.

Mathew Rosengart, ʼn prokureur wat in Julie deur Spears aangestel is, het Jamie Spears daarvan beskuldig dat hy $2 miljoen (sowat R30 miljoen) wou buit as ʼn voorwaarde om sy dogter se voogdyskap te beëindig.

In ʼn verrassende wending in September het Jamie Spears self aansoek gedoen om die 13 jaar lange ooreenkoms te beëindig. Dit het gekom twee maande nadat hy aangebied het om uit te tree en ʼn ander voog toe te laat om hom te vervang.

Tydens Woensdag se verhoor het Rosengart aangevoer dat Spears se sake steeds tydelik deur Zabel hanteer moet word terwyl Jamie Spears se beweerde misbruik ten volle ondersoek word. Jamie Spears se prokureur, Vivian Thoreen, het kapsie gemaak en Zabel ʼn “vreemdeling” in die saak genoem.

Ná die beslissing het Spears se verloofde, Sam Asghari, op Instagram die besluit geloof.

Spears het ná die regter se beslissing “in trane uitgebars”, het ʼn bron na aan die sangeres aan Page Six gesê.

“Sy is in skok en het nie woorde nie, maar is uit haar vel van vreugde. Sy het nie vreugde soos dié in die laaste 13 jaar ervaar nie,” het die persoon gesê.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Aai ·

Mooi want daar is baie ouers wat hulle kinders vashou.Onthou ek is jou kind maar is nie meer ‘n kind onthou dit ouers.

Mrs H ·

As jy met DR Phil praat, sal jy gou leer dat daar n ander kant van die storie is. Die pa het haar regtig probeer beskerm teen haarself en haar losbandige leefstyl wat met dwelm misbruik gewemel het… SY is die misbruiker en het haar pa bitter seer gemaak en telleur gestel – vir my ook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.