Britney se pa stem in om te waai

Britney Spears. (Foto: Facebook)

Britney Spears se pa sal opsy staan as medekurator van haar boedel, het die Amerikaanse media Donderdag berig, en skynbaar sodoende ʼn bitter regstryd met sy dogter beëindig.

Britney (39) het verlede maand gepleit om hom te laat verwyder van die omstrede 13 jaar lange voogdyskap wat volgens haar op “misbruik” neergekom het.

Jamie Spears se prokureur het destyds gesê hy sal die versoek teenstaan, en het sy dogter se weergawe van gebeure betwis. TMZ en Variety het egter Donderdag regsdokumente aangehaal waarin Jamie sê hy sal dié rol laat vaar.

“Daar is, om die waarheid te sê, geen gronde om mnr. Spears te skors of te verwyder as die kurator van die boedel nie, en dit is hoogs debatteerbaar of ʼn verandering in die kuratorskap tans in me. Spears se beste belang is,” lui die dokumente.

“Nietemin, hy glo ook nie dat ʼn openbare stryd met sy dogter om sy diens as kurator van haar boedel voort te sit, in haar beste belang is nie.

“So, hoewel hy hierdie onregverdige versoekskrif vir sy verwydering moet betwis, is mnr. Spears van voorneme om saam met die hof en sy dogter se nuwe prokureur te werk om ʼn ordelike oorgang na ʼn nuwe kurator te verseker.”

‘Regverdiging’

Britney Spears se pa, Jamie Spears. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Variety het ʼn verklaring deur Britney se nuwe prokureur, Mathew Rosengart, geplaas waarin hy dié skuif verwelkom en dit “regverdiging” vir die sangeres noem.

“Ons is verheug dat mnr. Spears en sy prokureur vandag ingewillig het om verwyder te word. Dit is regverdiging vir Britney,” lui die verklaring.

“Ons sien uit daarna om ons kragtige ondersoek voort te sit in die gedrag van mnr. Spears en andere oor die afgelope 13 jaar, nadat hy miljoene dollars van sy dogter se boedel ingeoes het, en ek sien uit daarna om binnekort mnr. Spears se beëdigde verklaring af te neem.”

Daar was geen onmiddellike terugvoer van die prokureurs op AFP se versoek om kommentaar nie.

Sy het in emosionele hofgetuienisse en sosialemediaberigte gesê die ooreenkoms kom op “wreedheid” neer en het haar pa en ander daarvan beskuldig dat hulle voordeel uit die stelsel trek.

Britney het in die hof beweer dat sy daarvan weerhou word om ʼn voorbehoedende IUD (intrauteriene toestel) te laat verwyder, ten spyte daarvan dat sy meer kinders wou hê, en dat sy onder dwang op medikasie geplaas is om haar “dronk” te laat voel.

Sy het onlangs op Instagram geskryf dat sy “nie weer op enige verhoë sal optree met my pa wat beheer wat ek dra, sê, doen of dink nie”.

Jamie Spears het Donderdag nog sy dogter se bewerings oor die misbruik van sy voogdyskap betwis en volgehou dat hy haar beste belange op die hart dra.

“As mense al die feite oor me. Spears se persoonlike lewe geken het – nie net haar hoogtepunte nie maar ook haar laagtepunte, al die verslawing en geestesgesondheidskwessies waarmee sy gesukkel het, en al die uitdagings van die kuratorskap – sou hulle mnr. Spears geprys het vir die werk wat hy gedoen het en hom nie beledig nie,” lui die dokumente wat Donderdag ingedien is.

Britney se aanhangers wêreldwyd eis lankal reeds dat Jamie Spears as kurator van haar boedel verwyder word onder die #FreeBritney-vaandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Phillip

1 2 3 en die geld is op en kriup weer na haar pa toe kyk mooi geld hou nie virewig nie n paartie hier en paartie daar en geld is op

sopbeen

Nou gaan die hele wêreld haar so fyn dophou en elke beweging analiseer. Daar sal geen plek vir foute maak wees nie. They will cheer you but cant wait to boo you.

Pieter9

Einde van Britney Spears; mooi en talenvol, maar tog so verwaald. Gaan nie goed eindig nie.

Mariana

Goeie ding dat haar pa nie meer haar lewe sal regeer nie, maar ek vra ook die vraag: sal sy oorleef, sy het ‘n lang geskiedenis van allerhande verslawings en ander goed ook. Hoop sy sal al die dinge wat die lewe na haar kant toe sal gooi kan hanteer. Sy is mos darem ook nie meer ‘n kind nie. 39 is mos darem mooi groot en sy moet mos darem ook al bietjie verantwoordelik optree.

Andre

Om enige iemand te wil beheer met geld is pateties! Om nie eers van jou eie kind te praat nie!