Britney vanjaar se invloedrykste; spog met verloofring

Britney Spears en haar kêrel, Sam Asghari, op die première van ‘Once Upon A Time…In Hollywood” by Chinese-teater in Hollywood, California in 2019. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Die Amerikaanse popster Britney Spears spog met ʼn reuseknewel van ʼn diamant aan haar ringvinger. Dít nadat sy Sondag haar kêrel, Sam Asghari, die jawoord gegee het.

Spears (39), wat die afgelope paar maande gereeld die nuus gehaal het weens ʼn hofstryd met onder andere haar pa, het haar ring gewys in ʼn video op Instagram. Asghari het ook ʼn foto van die ring aan Spears se vinger op Instagram gedeel.

Daar is vroeër wyd bespiegel of Asghari (27), ʼn persoonlike afrigter en danser, op een knie gaan sak nadat hy in ʼn Cartier-juwelierswinkel in Los Angeles afgeneem is.

Die nuus van hulle verlowing volg kort nadat Spears se pa, Jamie Spears, aansoek gedoen het om sy 13 jaar lange voogdyskap oor haar sake te beëindig.

Brandon Cohen, Asghari se bestuurder, het bevestig dat die paartjie verloof is. “Hulle het vandag hulle lang verhouding amptelik gemaak en is diep geraak deur die ondersteuning, toewyding en liefde wat teenoor hulle betuig word,” het Cohen aan Reuters gesê.

Die diamantring van vier karaat is gegraveer met die woord “lioness”, Asghari se bynaam vir die sangeres.

Roman Malayev, die meesterjuwelier van ringmaker Forever Diamonds NY, het aan Page Six gesê: “Hulle liefdesreis het mense oor die hele wêreld aangegryp en ons is opgewonde om deel te wees van hulle ‘vir altyd’ … Ons is opgewonde om vir Britney en Sam geluk te wens met hulle verlowing.”

Die paartjie het mekaar in 2016 op die stel van haar musiekvideo vir die liedjie “Slumber party” ontmoet.

Die sangeres het in Junie aan die hof gesê sy wil met Asghari trou en ʼn baba saam met hom hê, maar dat sy volgens die voogdyskap nie toegelaat word om ʼn IUD (intrauteriene toestel) te laat verwyder nie, al wou sy beheer neem van haar eie voorbehoedmedikasie in ʼn poging om swanger te raak.

Volgens wet kan Spears trou, maar die voogdyskap moet dit goedkeur, net soos al haar ander groot lewensbesluite.

Britney Spears in Oktober 2018 met die aankondinging van haar “Britney: Domination”-vertonings in Las Vegas. (Foto: Ethan Miller/Getty Images North America/AFP)

Spears was voorheen getroud met Kevin Federline, met wie sy toesig oor hulle twee seuns, nou onderskeidelik 15 en 14 jaar oud, deel. Sy was ook in 2004 kortstondig getroud met ʼn kindertydvriend, Jason Alexander.

Intussen is Spears vanjaar deur die tydskrif Time se lesers aangewys as die mees invloedryke persoon van 2021. Sowat 1,8 miljoen stemme is uitgebring, met Spears wat meer as 4% van die stemme gekry het.

Gesondheidswerkers het die tweede plek ingeneem met 3,1% van die stemme, terwyl entstofontwikkelaars die derde plek beklee met 2,5% van die stemme.

Die Koreaanse K-popgroep BTS het die vierde plek ingeneem met 2,1% van die stemme. Hulle het in 2019 die eerste plek ingeneem.

Simone Biles, die Amerikaanse Olimpiese gimnas, het die vyfde plek ingeneem met 2% van die stemme.

Bronne: BBC, The Guardian, Time

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blomme

Is dit nou regtig nuuswaardig? Oppad kansel toe vd 3de keer. Swak voorbeeld vir haar bewonderaars!

Aai

Hou kop Britney.Baie geluk.

Mariana

Hoe was sy ook dan nou invloedryk? Haar lewe is alles behalwe ‘n mooi prentjie.

Ruby

Sy was nog altyd vir my pragtig.

Die ring moet op die linker hand wees of is dit ‘n nuwe modegier?

Martie

Cradle snatcher, genade die knaap is jonk.