Britse adjunk- eerste minister bedank oor boeliebewerings

Dominic Raab (Foto: Daniel LEAL / AFP)

Die Britse adjunkpremier, Dominic Raab, het Vrydag sy bedanking aangekondig nadat daar in ʼn verslag bevind is dat hy personeellede geboelie het terwyl hy as kabinetsminister oor verskillende departemente gewerk het.

Raab word in die verslag deur ʼn onafhanklike ondersoeker egter van die meeste bewerings teen hom vrygespreek. Twee uit die agt klagtes van boeliery word wel in die verslag gesteun.

Raab, wat vir die voormalige Britse premier Boris Johnson ingestaan ​​het toe hy in 2020 Covid-19 opgedoen het, het onderneem om te bedank indien enige bewerings teen hom in die verslag bevestig word.

Hy is beslis nie gelukkig oor die besluit nie.

Raab sê in sy bedankingsbrief die ondersoek is “gebrekkig” en die gevolgtrekkings in die verslag “skep ʼn gevaarlike presedent vir die gedrag van goeie regering”.

Sy bedanking kom maar twee weke voor die plaaslike verkiesing. Daar word verwag dat die konserwatiewes setels gaan verloor.

Rishi Sunak, Britse eerste minister, het die senior indiensnemingsadvokaat Adam Tolley in November aangestel om die bewerings teen Raab te ondersoek. Tolley het sy verslag oor die bewerings Donderdag ingedien.

Die verslag is nog nie bekend gemaak nie.

Raab sê wel in sy bedankingsbrief Tolley het in die verslag “tot die gevolgtrekking gekom dat ek nie een keer, in vier en ʼn half jaar, enigiemand gevloek of op hulle geskree het nie, wat nog te sê hulle met enigiets gegooi of enigiemand andersins fisiek seergemaak het, en ook nie opsetlik probeer het om iemand te verkleineer nie”.

Hy voer ook in die brief aan dat die maatstaf vir afknouery só laag gestel is dat “dit valse klagtes teen ministers sal aanmoedig en ʼn groot uitwerking sal hê op diegene wat verandering bevorder”.

Hy hou ook vol dat ministers “daartoe in staat moet wees om direkte kritiese terugvoer oor inligtingsessies en voorleggings aan senior amptenare te gee om die standaarde te stel en die hervorming te bewerkstellig wat lede van die publiek van ons verwag”.

“Natuurlik moet dit binne redelike perke gedoen word,” gee Raab in sy bedankingsbrief toe.

Raab het voorheen as Brexit-minister en Britse minister van buitelandse sake gedien, maar is later uit dié pos geskuif nadat hy gekritiseer is omdat hy nie van vakansie af teruggekeer het toe die Taliban die regering in Afghanistan oorgeneem het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Was daar nie een Engelsman of vrou wat hom kon voeter nie?

Hennie Biebouw ·

Rishi Sunak maak skoon…soos sy hanteerders by die WEF van hom verwag.
Die Esterse bskawing ondergrawe homself met hierdie tipe heksejagte. Sterk leiers is desdae so gereeld “boelies…”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.