Britse akteur ook vir Covid-19 getoets

Idris Elba. (Foto: Instagram/Idris Elba)

Die Britse akteur Idris Elba het positief getoets vir die korona (Covid-19)-virus. Die 47-jarige akteur het Maandag dié nuus met ʼn video op sy Twitter-rekening bevestig.

Volgens Elba het hy hom laat toets nadat hy blootgestel is aan iemand wat positief getoets het. Die akteur het hom daarna isoleer.

“Vanoggend het ek positief getoets vir Covid-19. Ek voel oukei, ek het geen simptome nie, maar het myself geïsoleer vandat ek uitgevind het dat ek moontlik aan die virus blootgestel is,” het Elba in die video laat hoor.

Hy het mense aangemoedig om sover moontlik tuis te bly en om verstandig te wees. “Ek sal julle op hoogte hou met my vordering. Geen paniek nie,” het hy bygevoeg.

Hoewel die akteur nie gespesifiseer het met wie hy in aanraking gekom het nie, is dit alombekend dat hy op 4 Maart die WE Day-geleentheid in Londen bygewoon het. Sophie Grégoire Trudeau, die vrou van die Kanadese eerste minister Justin Trudeau, wat ook positief getoets het vir die virus, het ook dié geleentheid bygewoon.

Elba se vrou, Sabrina Dhowre, is nog nie vir die koronavirus getoets nie.

Elba, ʼn akteur, vervaardiger, musikant en DJ, is verlede jaar deur die Amerikaanse tydskrif People as 2018 se sexyste man van die jaar aangewys. Hy het bekendheid verwerf met sy rol as die dwelmbaas Russell “Stringer” Bell in die dramareeks The Wire.

Intussen is die Amerikaanse akteur Tom Hanks en sy vrou, Rita Wilson, uit ʼn hospitaal in Australië ontslaan net ʼn paar dae ná hulle positief vir die nuwe koronavirus getoets het.

Hul seun, Chet Hanks, het bevestig die egpaar is nou in self-isolasie. “Hulle voel baie beter. Dis ʼn groot verligting,” het hy in ʼn plasing op Instagram gesê.

Bronne: NY Daily News, CNN, ANA-dpa

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
charmaine

Ja neh hierdie is seker een van die ergste wat die wereld nog getref het. Wys jou net jou bank balans, jou kar of bekendheid en velkleur maak nie saak nie siekte en dood ken diskrimineer nie. Mense moet net veilig wees.