Britse eerste minister vra wéér vir Brexit-uitstel

Die brief wat Britse eerste minister Theresa May aan die EU geskryf het.

Die Britse eerste minister Theresa May het gevra dat die spertyd vir die Verenigde Koninkryk om die Europese Unie (EU) te verlaat, tot 30 Junie uitgestel word.

EU-leiers het verlede maand ingestem om die datum vir Brexit, soos daar na die onttrekking verwys word, van 29 Maart tot 12 April uit te stel. Dít tensy May die Britse parlement vroeër kan oortuig om die ooreenkoms te aanvaar wat reeds aangegaan is.

Die Europeërs sou verkies dat Engeland nie deelneem aan die Europese parlement se verkiesing van 23 tot 26 Mei as die land die unie gaan verlaat nie. Engeland moet teen 12 April ook aandui of hy kandidate gaan benoem.

Enige uitstel van die spertyd gaan eenparige goedkeuring van die 27 oorblywende EU-lidlande benodig. Die Franse president Emmanuel Macron het tot dusver lugtig gelyk om Engeland nog tyd te gee.

In haar brief sê May Brittanje is onwillig gereed om voorbereidings vir die Europese verkiesing te tref, as geen Brexit-ooreenkoms intussen aangegaan word nie. Sy sê sy doen die voorbereidings al glo sy dit is nie in Brittanje óf die EU se belang vir Brittanje om daaraan deel te neem nie, omdat hy as lidland gaan onttrek.

May sê sy “aanvaar” die EU se posisie dat Brittanje ʼn wettige verpligting het om aan die verkiesing deel te neem as hy teen 23 Mei nog nie die unie verlaat het nie.

Die eerste minister sê sy hoop steeds ʼn skikkingsooreenkoms word aangegaan wat Brittanje voor dié datum aan die EU kan laat onttrek.

May sê dit is “frustrerend” dat Brittanje nog nie die kwessie kon oplos nie. Haar onttrekkingsplan, wat sy met die EU aangegaan het ná meer as twee jaar lange fyn onderhandelings, is drie keer deur die parlement verwerp. Dit het gelei tot die huidige politieke en wetlike dooiepunt.

May hoop nou om ʼn skikking te bereik in ʼn reeks gesprekke met die leier van die Arbeidersparty, Jeremy Corbyn, en sy adjunkte. Sy hoop die opposisie sal ʼn nuwe Brexit-plan steun. As dít nie werk nie, beoog May ʼn reeks stemsessies in die parlement om met ʼn plan vorendag te kom wat deur die meerderheid gesteun word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

gatiep ·

Die mense se agenda staan in hoofletters geskryf en almal kan dit lees.
Hulle lewe in hulle eie wereld en besef nie almal sien dit raak nie.
Van uitstel kom afstel.

KaterinaKat ·

My ma het die gesegde gehad: “Jy kan dit op jou maag skryf en met jou panty afvee.” Lyk my dit is gepas vir die Engelse wat die EU graag wou verlaat.

Gert van Wierdapark ·

May-day, May-day! Come what may or 30 June 2019?

Rikus ·

Dis die gemors as jy jouself te heg aan ander verbind. Of dit nou politieke ooreenkomste soos die EU is, n huwelik, of wat ook al. Hoe hegter die verbintenis, hoe moeiliker om daar uit te kom. Hoe verder jy jouself van ander mense distansieer, hoe minder drama het jy.

Andre ·

Die Britse kiesers is GATVOL VERBY en gaan wraak neem.

Die verkose leiers is verward en plaas hulle persoonlike eng belange bó die belange van die land.

Die regse pro Brexit politici moet hulle tande slyp … hulle gaan skoonskip maak in die volgende verkiesing!

Cherokee ·

Waarom is die Engelse tannie so verknog aan die Europese Unie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.