Britse kankerkampvegter verloor stryd teen siekte

Prins William oorhandig die Orde van die Britse Ryk (OBE) aan James. (Foto: Instagram/Deborah James)

Die Britse dermkankerkampvegter, blogger, omroeper en voormalige onderwyser, dame Deborah James, is Dinsdag op 40-jarige ouderdom ná ʼn lang stryd aan dié siekte dood.

James se familielede het dié nuus in ʼn plasing op haar amptelike Instagram-profiel gedeel. “Ons is uiters hartseer om die dood van dame Deborah James aan te kondig; die wonderlikste vrou, dogter, suster en mamma. Deborah is vandag vreedsaam oorlede, omring deur haar familie,” lui die plasing.

BBC het berig dat James in 2016 met dermkanaalkanker gediagnoseer is en het gevolglik ʼn reuseveldtog van stapel gestuur om bewustheid oor dié siekte te skep deur die werk van haar liefdadigheidsorganisasie en podsendingreeks You, Me and The Big C.

James is geprys vir haar positiewe houding, veral tydens haar behandelings. (Foto: Instagram/Deborah James)

Die kankerkampvegter se openhartige plasings oor haar vordering en diagnose, insluitend video’s waar sy tydens haar behandeling dans, het lof van die publiek en die media ontvang.

Volgens Sky News het James haar behandeling vroeg in Mei vanjaar gestaak en die laaste tyd saam met haar man en twee kinders by haar ouerhuis in Woking deurgebring.

Sy het ook vroeër vanjaar die Orde van die Britse Ryk (OBE) ontvang vir haar bydrae tot die bewusmaking van dermkanaalkanker. Weens haar verswakte toestand kon sy nie die amptelike geleentheid bywoon nie, maar is egter deur prins William verras, wat die toekenning aan haar in haar ouerhuis oorhandig het.

Sy het ook in haar laaste weke meer as £6,7 miljoen (ongeveer R132 miljoen) deur haar BowelBabe-fonds vir dermkankernavorsing ingesamel.

Medelye van Britse sangers, media en politici het op sosiale media ingestroom ná die nuus van haar dood.

James in 2021. (Foto: Instagram/Deborah James)

Die Britse eersteminister, Boris Johnson, het James op Twitter as ʼn “’n inspirasie vir so baie” beskryf. “Die bewustheid wat sy vir dermkanker gebring het en die navorsing wat haar veldtog befonds het, sal haar blywende nalatenskap wees. Danksy haar werk sal baie, baie lewens gered word.”

Prins William en Kate Middleton, die hertog en hertogin van Cambridge, het ook hul medelye met James se vriende en familie in ʼn Instagram-plasing betoon. “Deborah was ʼn onwankelbare dapper vrou wie se nalatenskap sal voortleef.”

James se familie het ook ʼn laaste boodskap van haar op sosiale media geplaas; “Vind ’n lewe wat die moeite werd is om te geniet; neem risiko’s; wees innig lief; moenie spyt wees nie; en wees altyd, altyd hoopvol.”

Bronne: BBC, Sky News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waarnemer ·

My innige simpatie met hierdie vrou en sterkte aan haar familie maar…moenie dat daar lappe oor julle oe getrek word nie….kanker genees nie…dit mag dalk in remissie gaan maar genees….nooit…dit kom terug na n paar dae,weke maande of jare en wanneer dit terjg kom kom dit met n spoed en in n veel erger graad terug.Al wie enigsins baat by die behandeling van enige soort kanker is die dokters,hospitale,onkoloe en kanker verenigings en mediese fondse…..die pasient sterf aan die einde van die dag agv kanker….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.