Britse koningin Elizabeth vier 94ste verjaardag in afsondering

Koningin Elizabeth II saam met die Britse eerste minister, Boris Johnson. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Die Britse koningin Elizabeth II vier Dinsdag haar 94ste verjaardag – maar vanjaar in algehele afsondering terwyl Engeland spook om die verspreiding van die nuwe koronavirus in bedwang te bring.

Boris Johnson, die eerste minister, wat onlangs self Covid-19 opgedoen het, gaan na verwagting die huldeblyke aan Brittanje se langsdienende monarg lei.

Die koninklike familie het aangekondig dat die jaarlikse parade by Buckingham-paleis, die koningin se Londense woning, gekanselleer word. Daar sal vanjaar ook geen tradisionele saluutskote wees om haar verjaardag te vier nie.

Die koningin en haar man, prins Philip (98), het Londen verlede maand vir Windsor-kasteel verruil as voorsorgmaatreël terwyl die Covid-19-pandemie wêreldwyd woed.

Prins Charles en sy vrou Camilla. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Die koningin se oudste seun en troonopvolger, prins Charles (71), is in selfisolasie by een van sy huise in Skotland nadat hy positief vir Covid-19 getoets het. Hy het matige simptome getoon.

Vandag se herdenking val saam met die koningin se eintlike geboortedag, terwyl ander geleenthede gewoonlik in Junie gehou word om haar amptelike verjaardag te vier. Die dubbele verjaardagtradisie het in 1748 by koning George II begin wat in November, ʼn bitter koue tyd in Engeland, gebore is.

Koning George wou ʼn groot verjaardagviering hê en het besluit om die makietie met ʼn jaarlikse militêre parade in die somer te kombineer. Die tradisie van ʼn amptelike verjaardag vir die monarg het daarna posgevat.

Die koningin is in 1926 gebore en regeer sedert 1952, toe sy maar 25 jaar oud was. In 2015 het sy koningin Victoria se heerskappy van ses dekades verbygesteek om die langs dienende monarg te word. Victoria, die koningin se oorgrootouma, was van 1837 tot 1901 op die Britse troon.

Brittanje se stelsel van ʼn konstitusionele monargie beteken die koningin is hoofsaaklik ʼn seremoniële staatshoof, terwyl die regering die bestuur van die land behartig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

MM Prins Charles was al teen begin April gesond, en het al weer in openbaar verskyn.

Marthinus

Hulle moet Charles maar goed oppas, want as hy sou sterf, word die jong en onervare William die volgende monarg. En as hy sou sterf, het hy net kinders wat nog op skool is. Harry sal dan nadergehark moet word.

Anel

Toe ek gebore is het die dokter vir my ma gesê sy miet luister, hulke skiet die kanonne om my geboorte te vier. En dit, vandag 61 jaar gelede. Ek is in ‘n hospitaal nie vêr van die paleis nie , gebore. My pa was toe diplomaat. So verjaar ons ook saam met Jan van Riebeeck.

Fedup

As long as you are safe my queen. You will always be adored for being humble and feisty. Wish you a advanced happy bday with more to come.

Niklaas

Sy lyk nog heel goed vir haar jare. Selfs Philip. Natuurlik het hul van die beste mediese sorg wat daar is.