Britse koningshuis nog ʼn pienkvoet ryker

Prinses Eugenie en Jack Brooksbank in Desember 2022. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Die Britse koningshuis het nog ʼn gesinslid verwelkom nadat prinses Eugenie, broerskind van koning Charles III, geboorte aan nog ʼn seuntjie gegee het.

Eugenie het Maandag die geboorte van hul tweede kind saam met haar man Jack Brooksbank op Instagram aangekondig.

“Ek en Jack wil die nuus deel dat ons seuntjie, Ernest George Ronnie Brooksbank, op 30 Mei om 08:49 gebore is en 7,1 pond [3,2 kg] geweeg het,” het sy by ʼn foto van die pienkvoet geskryf.

Die 33-jarige ma van twee sê hy is vernoem na koningin Elizabeth II se oupa George V, sy oupa George en haar oupa Ronald.

Sy het ook ʼn kostelike foto van haar eersgeborekind, August Philip Hawke Brooksbank, saam met hul tweede spruit gedeel.

“Augie is reeds mal daaroor om ʼn ouboet te wees.”

Eugenie het vroeër vanjaar op Instagram die nuus aangekondig dat hulle hul tweede spruit gaan verwelkom.

Die nuwe baba is die derde kleinkind vir Eugenie se ouers, prins Andrew en Sarah Ferguson, en is ook die 13de in lyn as opvolger van die Britse troon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.