Britse koninklike troue uitgestel weens Covid-19

Die koningshuis het in September prinses Beatrice se verlowing aan Edoardo Mapelli Mozzi, ʼn eiendomsmagnaat, bekendgemaak. (Foto: Prinses Eugenie/Britse Koningshuis se Facebook-blad.)

Die Britse prinses Beatrice se troue met die Italiaanse eiendomsmagnaat Edoardo Mapelli Mozzi moes noodgedwonge uitgestel word weens die voorkomingsmaatreëls om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Die troue, met sowat 150 gaste, sou op 29 Mei in die St. James-paleis in Londen plaasvind.

Beatrice (31) is die oudste dogter van koningin Elizabeth II se seun, prins Andrew, die hertog van York, en sy eksvrou Sarah Ferguson. Beatrice en Mapelli Mozzi het in September verlede jaar hul verlowing aangekondig.

Beatrice is glo veral bekommerd oor die veiligheid van haar 94-jarige ouma. “Dit sou nie regverdig wees om haar op daardie ouderdom in gevaar [om die virus op te doen] te stel nie,” het sy volgens The Sun gesê.

The Express berig ʼn woordvoerder van Buckingham-paleis het bevestig dat die uitstel van die troue strook met die Britse regering se maatreëls.

“Die paartjie sal die regering raadpleeg oor ʼn private seremonie wat moontlik kan plaasvind saam met ʼn klein groep vriende en familie,” het die woordvoerder gesê.

Beatrice se jonger suster, prinses Eugenie (29), is in 2018 met Jack Brooksbank getroud. Dié troue was in die Windsor-kasteel.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.