Britse polisiebeampte in hof vir moord, ontvoering

Sarah Everard, die vrou wat ontvoer en vermoor is (Foto: Metropolitan Police, AFP)

’n Britse polisiebeampte het Dinsdag in ’n hof in Londen verskyn op aanklagtes van moord en ontvoering.

Die beampte, Wayne Couzens (48), het Sarah Everard (33), ’n bemarkingsbestuurder van Londen, op 3 Maart (Woensdag) na bewering ontvoer toe sy die aand huis toe gestap het. Hy het haar ook glo vermoor.

Everard het die aand by vriende in die Clapham-omgewing, in die suide van Londen, gekuier. Sy het daarna na haar huis in Brixton teruggekeer. Dit is toe dat sy spoorloos verdwyn het.

Haar liggaam is ’n week later in die bosse – ongeveer 80 km van waar sy vermis geraak het – ontdek.

Die oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie en ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.

Couzens is met die voorval verbind en in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag nie veel in die hof gesê nie en het slegs gepraat om sy naam en geboortedatum te bevestig.

Couzens is betrokke by die diplomatieke beskermingseenheid van die metropolitaanse polisiemag in Londen.

’n Pleitverhoor sal na verwagting op 9 Julie plaasvind en ’n voorlopige verhoordatum is vir 25 Oktober geskeduleer.

Everard se verdwyning het woede en ’n nasionale debat oor vroue se veiligheid in openbare plekke ontketen. Die regering het gevra om snags beter polisiepatrollies in te stel en om die strate veiliger te maak.

’n Groep inwoners het Saterdag blomme in die Clapham Common-park in Londen vir Everard gelê. (Foto: Daniel Leal-Olivas, AFP)

Die regering het Dinsdag tydens ’n kabinetsvergadering onder voorsitterskap van premier Boris Johnson, onderneem om “onwrikbaar” te wees in sy verbintenis om geweld teen vroue te bekamp. Johnson het ook Maandag aan die hoof gestaan van ’n vergadering van sy taakspan vir strafreg om nuwe aanbevelings te maak om veiligheid te verbeter.

’n Groep inwoners het Saterdag blomme in die Clapham Common-park in Londen vir Everard gelê. Elena Percival (35), een van die inwoners, het ’n bordjie neergesit wat lui: “Manlike geweld is in ons kultuur”.

“Ons almal vrees om snags huis toe te loop,” het sy gesê.

“Dinge moet verander; mense is keelvol vir die status quo,” het ’n ander vrou, Charlotte (43), gesê. “As ek huis toe stap, het ek sleutels in my hand … My man weet dit nie eers nie. Dit is deel van jou lewe en dit behoort nie te wees nie.”

Chloe San, ’n 30-jarige fotograaf, het gesê wat gebeur het, laat haar kwesbaar voel. “Londen is ’n stad waar jy nie weerloos moet voel nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Realis Thailand ·

Die arme vroue van die wereld word oral vertrap duer mans en dit is ongelukkig n kultuur wat nog veel erger hier in die ooste en Arabie is
As elke vrou net maar wil opstaan en kla en aanranding sake teen mans maak. maar nee hulle is te bang want dan is die gevolg veel erger
Ek het nie n sinvolle antwoord wat sal werk met die probleem nie

Aai ·

Ek hoor wat jy se maar dit is anderste om ook nie net teen vrouens.

daniel ·

As die stad nie genoem word nie sou mens gedink het dit is in SuidAfika.

NuusUil ·

Hulle wil polisie lede ontplooi vir meer veiligheid maar dit is dan juis n polisieman wat haar vermoor het .

Tanya ·

Presies wat ek ook gedink het, nou hoe weet jy wie jy kan vertrou as ‘n polisie man langs jou sou stop… Dis baie hartseer dat mens (veral vrouens) nêrens meer veilig kan wees nie.

Hennie J ·

Groot nuus in brittanje……n poliesieman wat verdink word van moord! Par for the course in piesangland!

Regverdigheid ·

So sad en dan moet ons Polisie vertrou hoe kan ons .

summie ·

Dit is baie tragies, rêgtig, maar “welcome to the real world”. Hier in SA is dit nie eers meer nuus nie. Niemand kan waag om saans alleen te loop nie, selfs in die dag is dit gevaarlik en moet jy altyd op jou hoede wees. Ons kinders word so groot. Mense in Engeland sal maar net noodgedwonge meer op hulle hoede moet wees.

Tiptol ·

In Brittanje is dit skokkende nuus want die polisie daar word vertrou en het die publiek se respek. As so iets in SA gebeur is ons nie verras nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.