Britse polisieman onskuldig ná talle in sokkertragedie sterf

‘n Banier wat op die herdenking van die tragedie bekendgestel is. (Foto: Wikimedia)

David Duckenfield (75), die destydse hoof van die Liverpool-polisie, is dié week van alle klagte ná ʼn destydse sokkertragedie vrygespreek.

Duckenfield was die polisiehoof op die dag wat 96 Liverpool-ondersteuners dood is tydens ʼn wedstryd tussen Liverpool en Nottingham Forrest meer as 30 jaar gelede. Die spanne het tydens die Football Association Challenge Cup (FA Cup) se finaal teen mekaar te staan gekom.

Daar is vroeër 95 klagte van strafbare manslag en nalatigheid teen Duckenfield gemaak. Die Preston Crown-hof het hom egter onskuldig bevind op die aanklagte ná ʼn jurieverhoor van meer as ses weke. ʼn Vroeëre verhoor is laat vaar nadat die jurie nie in staat was om uitspraak te lewer nie.

Duckenfield, ʼn senior offisier by die polisie in South Yorkshire, was in April 1989 in beheer van die skare by die Hillsborough-stadion in Sheffield. Mans, vroue en kinders in die Leppingslaan-kant van die stadion is doodgetrap nadat ʼn hek oopgemaak is om die ondersteuners in die stadion in te laat.

Die staat het aangevoer dat Duckenfield persoonlik verantwoordelik was vir wat tydens die wedstryd gebeur het. Hy het beveel dat die uitgangshekke aan die Leppingslaan-kant van die stadion skaars agt minute voor die wedstryd sou begin, oopgemaak moes word.

Die gebied buite die draaihekke het vinnig in ʼn gevaarlike plek ontaard toe dit oorvol geraak het. Adv. Benjamin Myers, wat Duckenfield verteenwoordig het, meen dit is onregverdig dat die afgetrede polisieman die fokus van die tragedie moes wees. “Daar is soveel ander mense wat skuldig is en soveel ander oorsake,” sê hy.

ʼn Paar minute ná die afskop is die wedstryd laat vaar om beseerde ondersteuners te red en te help. Margaret Aspinall, wie se 18-jarige seun James onder die 96 slagoffers was, sê sy soek steeds antwoorde oor hoekom die slagoffers doodgetrap is en wie vir hul dood verantwoordelik gehou kan word.

Die tragedie het direk tot ʼn verandering in die wet gelei, wat alle sokkerklubs in Brittanje gedwing het om weg te doen met grasbanke by stadions. Voor die Hillsborough-tragedie het baie ondersteuners verkies om op die grasbanke te staan.

Gesinne van die slagoffers het jare lank baklei vir ʼn amptelike verhoor oor die tragedie, wat gelei het tot die vervolging van Duckenfield.

In 2010 is ʼn onafhanklike paneel van Hillsborough aangestel om bewyse wat voorheen nie oorweeg is nie, te hersien. Dit het daartoe gelei dat nuwe doodsondersoeke van stapel gestuur is, wat in 2014 geopen en twee jaar geduur het.

Hierdie saak is tot dusver die langste ondersoek in die Britse regsgeskiedenis.

In 2016 het die ondersoekjurie die gevolgtrekking gemaak dat die 96 wat gesterf het, wederregtelik vermoor is. Die jurielede het gesê dat ondersteuners nie ʼn rol in die dodetal gespeel het nie en dat hulle weens die polisie se mislukkings, gebrekkige stadionontwerp en ʼn vertraagde reaksie deur die ambulansdiens gesterf het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peanut ·

Ag asseblief!
Wereldwyd is sokker ondersteuners bekend daarvoor dat hulle die “bottomfeeders” van sport ondersteuners is wat gedrag betref.
As ek n sport byeenkoms bywoon maak ek nie n hooligan van myself nie, ek gaan vroegtydig, staan beskaafd in n ry en loop deur die hekke soos n lid van homo sapiens sapiens.
Ek storm nie soos n ondier op die perseel af en druk al wat asemhaal uit die pad.
Myns insiens is dit elke toeskouer se eie verantwoordelikheid en aanspreeklikheid om veilig en lewendig daar in te beweeg en weer na die spel uit te beweeg.
Maar nou ja, dis altyd makliker om n ander te blameer.

Hendrik van George ·

Hopelik is dit nou die einde van die saga! Die Pomme is net soos die ANC – daar moet altyd iemand aanspreeklik gehou word, solank dit net van die denkbeeldige vyand is…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.