Britse regering glo self verward oor self-isolasie-reëls

‘n Argieffoto van besoekers aan Keswick in Engeland. Die Britse regering beoog om inperkingsregulasies Maandag beduidend te verslap. (Foto: Oli Scarff/AFP)

Die Britse regering is oënskynlik self verward oor sy eie regulasies oor self-isolasie terwyl die land voorberei om talle inperkingsregulasies om die verspreiding van Covid-19 te stuit, op te hef.

Eerste minister Boris Johnson en sy minister van finansies, Rishi Sunak, sal dié week van die huis af werk nadat hulle in nabye kontak was met iemand wat Covid-19 onder lede het, sê Downing Street.

Sajid David, die minister van gesondheid, het Saterdag bevestig hy het positief vir die koronavirus getoets en self-isoleer nou vir 10 dae.

Hy het volgens die Sunday Times Vrydag ʼn lang vergadering met Johnson gehad. Die eerste minister is verlede jaar byna dood weens Covid-19.

Javid het ook die afgelope week saam met verskeie ander ministers in die parlement verskyn en een regeringsbron het aan The Telegraph gesê “ek kan nie sien hoe die helfte van die kabinet nie teen die einde van die week in isolasie gaan wees nie”.

Aanvanklik het ʼn woordvoerder van Downing Street gesê Johnson en Sunak gaan deelneem aan ʼn toetsprogram van die regering wat hulle gaan toelaat om van hul kantore te werk, terwyl hulle buite werksverband sal isoleer.

Ná groot woede oor hierdie aankondiging, het die woordvoerder ʼn ander deuntjie gesing en gesê nie een van die twee neem aan die program deel nie, en sal van elders af werk.

Johnson sal by die eerste minster se landelike huis by Chequers, noordwes van Londen, bly waar hy tuisgegaan het toe Covid-opsporingsbeamptes van die Nasionale Gesondheidsdiens hom gekontak het.

Die bepalings van die loodsprogram het groot woede onder sosialemediagebruikers en opposisiepolitici veroorsaak nadat miljoene skoolkinders en werkers ingevolge die opsporingsreëls gedwing is om tuis te bly.

“Die regering behandel die publiek met minagting en dink hulle is verhewe bo die reg en dat reëls nie vir hulle geld nie,” het Angela Rayner, adjunkleier van die Arbeidersparty, op Twitter gesê.

Die verwikkeling kom terwyl Johnson se regering voorberei om die meeste van die pandemiebeperkings Maandag in Engeland op te hef, ten spyte van infeksies wat nou op meer as 50 000 per dag staan.

‘Piengdemie’

Die regering hou vol noudat twee-derdes van die volwasse bevolking ingeënt is, die risiko’s bestuur kan word en talle Britse mediahuise het Maandag as “vryheidsdag” gedoop.

Robert Jenrick, minister van behuising, het aan BBC gesê dit is die “logiese oomblik” om wetlike voorskrifte met gesonde verstand te vervang, veral omdat die somerskoolvakansie dié week begin en warmer weer verwag word.

Op Sky News het hy egter toegegee dat die huidige vlaag nie voor September die kruin gaan bereik nie. “Daar lê ʼn hele paar uitdagende weke voor.”

Jonathan Ashworth, die Arbeidersparty se woordvoerder oor gesondheid, sê die regering is besig om “roekeloos” te wees met sy planne, ʼn gevoel wat talle wetenskaplikes deel. Hulle meen onder meer die besluit hou ʼn gevaar vir wêreldwye gesondheid in.

Ashworth is veral gekant teen die plan om die dra van maskers te laat vaar.

Volgens die plan vir Engeland gaan alle beperkings oor sosiale byeenkomste, asook ʼn opdrag om van die huis af te werk, opgehef word. Nagklubs kan heropen en sportstadions, flieks en teaters kan weer teen volle kapasiteit sake doen.

Die styging in infeksies het beteken meer as 530 000 Britte is deur die gesondheidsdiens se app in die week van 7 Julie opdrag gegee om te self-isoleer.

Sommige maatskappye, soos die motorvervaardiger Nissan, het groot getalle werkers op dié manier verloor nadat die app hulle gepieng het – ʼn krisis wat Britse koerante as ʼn “piengdemie” bestempel het.

Personeeltekorte wat weens die isolasiereëls veroorsaak word, het ook Londen se moltreinstelsel ontwrig en een roete moes heeltemal opgeskort word.

Sondagkoerante het berigte gedra met waarskuwings dat voedseltekorte kan voorkom as meer werkers gedwing word om tuis te bly.

Van 16 Augustus hoef mense wat ten volle ingeënt is nie meer te self-isoleer ná nabye kontak met ʼn Covid-19-positiewe persoon nie, maar die regering is onder druk om die inwerkingstelling van dié bepaling te vervroeg.

Jenrick het aan Sky gesê die feit dat Johnson en Sunak gekontak is, “wys dat die stelsel werk”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Sjoe, ek sal ook lekker deurmekaar wees oor wat wat is en nie is nie in ‘n land waar selfs die kerke so oorhang na duskant. Dalk is self-inperking, veilig in die kooi, tog die beste plek. Sè nou net die kerkie pieng…. dear me!

Jan ·

Nog steeds verstaan iemand skynbaar dat inperkingsmaatreëls meer skade as goed doen nie. In SA meer as dertigmaal meer skade as goed. Dis ‘n bose dag as die oplossing meer skadelik as die probleem is en dit gelate aanvaar word.

Michael ·

Dit gaan nie oor gesondheid nie maar oor beheer-die meeste gaan dit te laat besef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.