Britse regisseur van ‘Up’-faam sterf

Michael Apted (Foto: VALERIE MACON / AFP)

Die Britse regisseur Michael Apted, onder meer bekend vir sy regie van die 1999 James Bond-fliek The World Is Not Enough, is Donderdag in die ouderdom van 79 oorlede.

Besonderhede omtrent sy dood is nie in dié stadium duidelik nie.

Thomas Schlamme, president van die Amerikaanse Directors Guild, ’n pos wat Apted vroeër jare beklee het, het die nuus bevestig.

Apted was ook regisseur van Gorillas in the Mist, die 1988-rolprent oor die werk van Dian Fossey, en die dokumentêre TV-reekse Up wat die lewens van 14 Britte uit verskillende agtergronde vanaf die ouderdom van sewe in 1964 begin volg het.

Daarby was Apted ook die regisseur van die derde aflewering in die reeks The Chronicles of Narnia-rolprente.

Kevin Lygo, hoof van Brittanje se ITV wat Up uitgesaai het, het gesê die kanaal is diep bedroef deur sy heengaan.

“Die Up-reeks het die moontlikhede van televisie op sy beste getoon deur middel van sy ambisie en vermoë om ʼn spieël vir die samelewing op te hou, en om mense te betrek en te vermaak terwyl ons ons perspektief op die menslike toestand verryk,” het Lygo in ʼn verklaring gesê.

Apted is in 2009 deur koningin Elizabeth II met die Orde van St. Michael en St. George vir sy werk in die vermaakbedryf vereer.

Apted word oorleef deur sy vrou, Paige, en drie kinders.

Bykomende bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.