Britse vrou sterf ná vergiftiging

Dawn Sturgess. Foto: Facebook

Die Britse vrou wat onlangs in raaiselagtige omstandighede met die lewensgevaarlike senumiddel Novichok vergiftig is, het gesterf.

The Guardian berig Dawn Sturgess (44) is Sondag in die hospitaal dood. Haar lewensmaat, Charlie Rowley (45), wat met dieselfde middel vergiftig is, is steeds in ʼn kritieke toestand in Engeland se Salisbury District-hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig Rowley en Sturgess is op 30 Junie bewusteloos in hul woonstel in Wiltshire aangetref. Hulle is na ʼn hospitaal gehaas en daar is vasgestel dat hulle aan Novichok blootgestel is. Dit is dieselfde senumiddel waarmee Sergei Skripal (67), ’n voormalige Russiese spioen, en sy dogter, Joeilia (33), vroeër vanjaar vergiftig is.

Sowel Sergei as Joeilia het egter die vergiftiging oorleef en is sedertdien uit die hospitaal ontslaan.

Novichok is ʼn lewensgevaarlike senumiddel en vyf verskillende variante is sedert die middel se ontstaan na bewering aangepas vir militêre gebruik.

Al Jazeera berig ʼn woordvoerder van die Salisbury District-hospitaal het gesê personeel het onverpoos gewerk en “alles moontlik gedoen” om Sturgess se lewe te red. Sy laat haar familie, onder wie drie kinders, agter.

Intussen is dit nog nie duidelik of die twee vergiftigingsvoorvalle met mekaar verband hou nie. Ongeveer 100 speurders wat gelei word deur die Britse polisie se teenterreur-eenheid is betrokke by die ondersoek na die voorvalle.

Volgens Al Jazeera het die polisie gesê hulle vermoed dat Rowley en Sturgess se vergiftiging nie met opset was nie en dat hulle per ongeluk in aanraking gekom het met besmette materiaal.

Theresa May, die Britse eerste minister, het gesê sy is steeds “verstom en geskok” deur Sturgess se dood. Sy het gesê owerhede werk hard om al die tersaaklike feite vas te stel, veral nadat kringtelevisiebeeldmateriaal aan die lig gekom het van Sturgess wat kort voor die voorval inkopies gedoen het.

Die polisie het ook bevestig dat ʼn nadoodse ondersoek gedoen sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.