Brittanje, EU maak post-Brexit-ooreenkoms bekend

brexit

Foto: Pixabay.com

Brittanje en die Europese Unie het Saterdag die volledige teks van die post-Brexit-handelsooreenkoms gepubliseer wat die vennootskap uiteensit wanneer die Verenigde Koninkryk die blok oor vyf dae verlaat.

Die dokument, wat meer as 1 200 bladsye beslaan, bevat besonderhede oor onder andere handel, wetstoepassing en dispuutoplossing wanneer die VK die EU op 31 Desember 2020 verlaat.

David Frost, die VK se hoofonderhandelaar, het Saterdag aan verslaggewers gesê die ooreenkoms is “een van die grootste en wydste ooreenkomste wat nie net handeldryf met goedere dek nie, maar ook dienste, lugvaart, padvervoer, maatskaplike sekuriteit, gesondheidsamewerking en wetstoepassing”.

“Dit sal na verwagting vir ons die begin wees van nasionale hernuwing,” het Frost gesê.

In die voorwoord van die dokument, gepubliseer deur die VK-regering, het Britse eerste minister Boris Johnson gesê die ooreenkoms is “noukeurig nagegaan om almal te bevoordeel” en “beskerm vryhandel vir miljoene mense in die VK en oor Europa heen”.

Michael Gove, senior minister in die VK-regering, het in The Times-koerant gesê die ooreenkoms sal Brittanje toelaat om “innovasie en belegging te bring na dele van die land wat ʼn ekonomiese afname beleef het”. Hy het gesê daar is steeds “beduidende veranderinge” wat in die korttermyn voorberei moet word vir ondernemings.

Brittanje se parlement sal op 30 Desember weer bymekaar kom. ʼn Stem ten gunste van die ooreenkoms is byna gewaarborg ná die VK se opposisieparty gesê het sy LP’s sal dit ondersteun.

Die Europese Kommissie het in Brussel voorgestel die ooreenkoms moet voorlopig toegepas word tot 28 Februarie 2021.

Die Europese parlement sal in 2021 die ooreenkoms moet goedkeur en om die proses af te handel, sal al 27 lidstate die besluit moet aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.