Brittanje, EU verleng samesprekings oor Brexit

Die Victoria-toring, deel van die Westminster-paleis en tuiste van die parlement in Londen. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Die Europese Unie (EU) en Brittanje keer vandag (Maandag) terug na die onderhandelingstafel nadat hulle ooreengekom het om die spertyd vir ʼn post-Brexit-handelsooreenkoms vir eers te laat vaar.

Ursula von der Leyen, die EU-voorsitter, en Boris Johnson, die Britse eerste minister, het verlede week gesê hulle sal teen Sondag besluit of ʼn ooreenkoms moontlik is, maar het nou in ʼn noodoproep ooreengekom om “die ekstra myl” te stap.

“Ons onderhandelingspanne het die afgelope paar dae dag en nag gewerk,” het Von der Leyen in ʼn videoboodskap wat sy namens die EU en Brittanje voorgelees het, gesê.

“Ons het gevolglik ons onderhandelaars opdrag gegee om samesprekings voort te sit en te kyk of ʼn ooreenkoms selfs in hierdie laat stadium bereik kan word,” het die leiers gesê.

Hulle het nie ʼn nuwe spertyd bekend gemaak nie, maar Mark Harper, ʼn LP van die Konserwatiewe Party, het gesuggereer dat die verlengde gesprekke tot op die laaste nipper kan duur. Brittanje is veronderstel om die gemeenskaplike mark aan die einde van die maand te verlaat.

“Talle van ons verwag dat ons heel moontlik tussen Kersfees en Nuwejaar na die parlement sal moet terugkeer om te beraadslaag hieroor en te stem indien ʼn ooreenkoms bereik word,” het hy aan die persvereniging gesê.

Die EU-onderhandelaar Michel Barnier en Brittanje se David Frost het nog laat Saterdagaand en weer vroeg gister vergader. Tot dusver het hulle gependel tussen die hoofstede, maar ʼn Europese amptenaar het gesê in hierdie stadium gaan hulle in Brussel bly.

Barnier sal Europese ambassadeurs vanoggend op hoogte van die jongste stand van sake bring, het Sebastian Fischer, die EU-raad se woordvoerder, gesê.

10 Downing Street, die tuiste van die Britse eerste minister. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Johnson hou intussen vol ʼn ooreenkoms is allermins ʼn voldonge feit.

“Ek is bevrees ons het oor sekere sleutelkwessies nog ʼn lang pad om te stap, maar as daar hoop is, is daar lewe,” het hy in 10 Downing Street gesê nadat hy die kabinet oor die oproep ingelig het.

“Die Verenigde Koninkryk (VK) gaan beslis nie wegstap van die onderhandelings nie. Ek dink ʼn ooreenkoms kan nog bereik word as ons vennote dit wil doen,” het hy gesê.

Luidens berigte kyk albei kampe na ʼn moontlike ooreenkoms oor hoe om te reageer as hulle regulasies mettertyd te veel verskil en billike mededinging bedreig.

Die eerste minister het egter gesê Brittanje kan nie bes gee oor die “fundamentele aard” van Brexit, die beheer van wetgewing en visserye nie.

Sonder ʼn ooreenkoms val handel terug op die reëls soos bepaal deur die Wêreldhandelsorganisasie, met tariewe wat pryse gaan opjaag en heelwat meer papierwerk vir invoerders, terwyl die mislukte onderhandelings die verhouding tussen Londen en die res van die vasteland nog jare lank kan vertroebel.

(Foto: Tolga Akmen/AFP)

“Maak nie saak watter kant toe nie, die VK gaan baie, baie goed vaar,” het Johnson volgehou.

Ierland het veel meer om te verloor as enige ander EU-land as handel met sy grootste buurman ontwrig word – en hy het die tydelike verligting versigtig verwelkom.

“Dit is tyd om sterk te staan en die onderhandelaars toe te laat om vordering te maak, selfs in hierdie laat stadium. ʼn Gesamentlike verklaring oor Brexit-onderhandelings is ʼn goeie teken. ʼn Ooreenkoms is duidelik baie moeilik, maar moontlik,” het Simon Coveney, die land se minister van buitelandse sake gesê.

Die pro-Brexit-faksie onder Johnson se Britse konserwatiewes is egter nie oortuig nie en LP’s het in twiets teen enige toegewings gewaarsku.

Die grootste gedeelte van die ooreenkoms is glo afgehandel, maar Brittanje en Brussel stoei oor ʼn manier om vir optrede voorsiening te maak as Britse en EU-regulasies tot so ʼn mate verskil dat dit sekere maatskappye benadeel.

“Die verdediging van ʼn gemeenskaplike mark is ʼn rooi streep vir die EU,” het ʼn bron in dié organisasie gesê. “Wat ons aan die VK voorgestel het, respekteer Britse soewereiniteit.”

In Londen hou die regering vol Brittanje is gereed om die unie te verlaat en ná 47 jaar van noue ekonomiese integrasie sy eie sake te behartig.

Downing Street sê elke moontlike scenario is deurloop vir enige moontlike probleme wat ná 31 Desember kan opduik en “niemand hoef bekommerd te wees oor kos, medisyne of noodsaaklike verkrygingskettings nie”.

Skotland se nasionalistiese regering het intussen ʼn einde geëis aan die “verlammende onsekerheid” dat geen ooreenkoms dalk bereik gaan word nie – en dít boonop tesame met die Covid-19-pandemie.

Die Europese parlement is diep ongelukkig terwyl die uurglas leegloop vir ʼn deeglike hersiening van enige ooreenkoms voor die einde van die jaar se spertyd.

“Onverantwoordelik en bitter,” het die senior Duitse politikus Bernd Lange getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Die EU is mank sonder die VK, hulle is veels te aggressief teenoor Brittanje

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.