Brittanje moet weer met Argentinië oor Falklande onderhandel

The Falkland Islands Thirty Years After The WarDie VN se dekolonisasiekomitee het eenparig ‘n resolusie aanvaar dat Brittanje met Argentinië onderhandel oor die soewereiniteit van die Falklandeilande, berig The Telegraph.

Volgens die koerant het die komitee grootliks Argentinië in sy argumente gelyk gegee.

In Argentinië is die Falklandeilande, of Islas Malvinas soos die Argentyne dit noem, ‘n emosionele kwessie sedert die Brittanje die eilande verower en die Spaanssprekende bevolking van die eilande afgesit het. Oor hierdie kwessie is Argentyne, wat oor talle ander kwessies erg verdeeld is, baie eensgesind, en dit word ook dikwels deur die politici ingespan om verdeeldheid teen te werk.

In 1982 het Argentinië die eilande met ‘n militêre inval teruggeneem, maar Brittanje het ‘n groot offensief geloods en die eilande in die bekende Falklandoorlog herower.

Brittanje beroep hom op ‘n referendum dat meer as 99% van die huidige inwoners Brits wil bly. Baie lidlande van die Organisasie van Amerikaanse lande verwerp hierdie benadering omdat die oorspronklike, Spaanssprekende setlaars van die eilande afgesit is toe dit deur Brittanje oorgeneem is.

Die dekolonisasiekomitee het die dispuut reeds in 1999 geregistreer. In 2013 het die komitee reeds eenparig op ‘n teks ooreengekom wat vereis dat Brittanje en Argentinië onderhandel oor die “spesiale en besondere” koloniale dispuut. Brittanje het egter geweier.

Vir meer agtergrond, lees gerus: Argentinië vra weer Falklandeilande terug en Falklandeilande: Twis op ‘n spits.

Bronne: The Telegraph, VN Algemene Vergadering GA/COL/3257

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Die eilande was heel eerste ‘n Franse kolonie – daar was geen inheemse bewoners voor daardie tyd nie. Die Britte het dit ook toe geannekseer, terwyl hulle onbewus was van die Franse kolonie wat reeds op die ander eiland was. Die Spanjaarde het die kolonie by die Franse oorgeneem, maar die Britse kolonie het bly voortbestaan, tot die Spanjaarde die Britte wat daar gewoon het in 1770 met geweld van die eilande verjaag het en in 1780 die fisiese Britse kolonie ook verwoes het.

In die vroeë 1800s het die Spanjaarde weer die eilande verlate gelaat, weens ander militêre verpligtinge. In hierdie verlate tydperk het die Argentyne die eilande geannekseer, maar geen permanente vestiging daar gemaak nie. Toe daar weer gevestig is, het die mense Britse beskerming gevra en in 1833 het die Britte weer amptelik die eilande geannekseer en permanent daar gevestig.

Dis min dat mens wil sê die Britte is korrek, maar hier kan ek nie sien hoe die Argentyne kan sê dat dit eintlik hul eilande is nie. Die Franse was eerste daar, kort voor die Britte, maar die Franse het dit aan die Spanjaarde gegee, wat die Britte met geweld verjaag het. Later verlaat Spanje die eilande, en die Argentyne sê dis nou hul eilande, maar vestig niks pemanents nie en die mense wat daar is, versoek Britse beskerming. Die Britte vestig finaal weer daar.

Die Franse was eerste, maar het vrywillig verlaat. Die Britte was tweede, en is verjaag, maar het weer teruggekom sonder dat enigiets noemenswaardig intussen gevestig is. Dis dan tog die Britte se gebied, sou ek dink…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.