Brittanje se jongste orgaanskenker net 2 uur oud

Die berig in die Daily Mirror.

Die berig in die Daily Mirror.

ʼn Pasgebore baba wat vir minder as twee uur geleef het, het Brittanje se jongste orgaanskenker geword.

Volgens ʼn berig van die BBC is Teddy Houlston op 22 April verlede jaar kort ná sy geboorte dood en sy niere is gebruik om ʼn volwassene se lewe te red. Vroeër vanjaar is ʼn meisie wat ses dae oud was se niere en lewerselle gebruik vir twee ontvangers nadat haar hart gaan staan het. Daar is toe aangevoer dat sy Brittanje se jongste orgaanskenker nóg was.

Mike Houlston, Teddy se pa, het gesê sy seun was in lewe en dood ʼn held. “Dit is onmoontlik om te verduidelik hoe trots ons op hom is,” het hy aan die Daily Mirror gesê. Jess Evans, Teddy se ma, was met ʼn tweeling swanger toe sy op 12 weke gehoor het dat een van die twee baie siek is. Teddy het ʼn rare siekte gehad wat verhoed het dat sy brein en skedel ontwikkel.

Babas met Teddy se toestand gaan gewoonlik in die baarmoeder dood, word stilgebore of lewe ʼn paar minute na hul geboorte. Evans het aan die Daily Mirror gesê dit was “sielvernietigend” om van Teddy se toestand te hoor.

Dokters het die paartjie aangemoedig om ʼn aborsie te oorweeg, maar Evans het besluit om voort te gaan met die swangerskap en hul baba se organe te skenk. Die oorplanting is minute ná Teddy se dood gedoen.

Houlston, Evans en Teddy se tweelingboetie, Noah, het Woensdag sy graf besoek op die herdenking van sy dood. “Hoewel hy nie vir baie lank saam met ons was nie en ons hom in die wêreld gebring het met die wete dat hy nie sal leef nie, is ons verskriklik trots op sy heldhaftigheid,” het Evans gesê.

Daar is tans nagenoeg 7 000 pasiënte in Brittanje wat op orgaanskenkings wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swanna ·

Hoop net die persoon wat die organe ontvang het waardeer dit en pas dit op soos goud.

Christanam ·

As jou lewe aan n draaitjie hang en jy wag vir n orgaan en jy die oproep van die hospitaal ontvang is dit n 2de kans. Regtig? Wie gaan dit nie waardeer nie.

Asjas ·

Duidelik ken ons dieselfde mense, mense wat nuwe organe moet kry agv hul lewenswyse maar dit nie verander wanneer hulle die geleentheid gegee word nie.

tina ·

christanam…ek dink wat swanna probeer se is dat die ontvanger/s van organe, hul lewens produktief sal aanwend om ‘n verskil in ander se lewens te maak juis uit die feit dat skenker/s ‘n kans gekry het op ‘n 2de kans om te mag leef..vrede vir jou..shalom :)

jaycee ·

Die ouers se motief om nie op ‘n aborsie te besluit nie was om die baba se organe te skenk. Baie edel van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.