Brittanje se reputasie ly skipbreuk oor media, regering – Prins Harry

Prins Harry voor die hof. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Prins Harry, die hertog van Sussex, het Dinsdag sy gevoelens oor die Britse media en die regering te kenne gegee toe hy sy getuienis in die hof gelewer het.

Die 38-jarige hertog het vandeesweek die geleentheid om sy saak teen ʼn poniekoerant-uitgewer te stel.

Prins Harry het Dinsdag die getuiebank by die Londense hooggeregshof ingeneem in ʼn verhoor wat onregmatige inligting-insamelingseise teen die Mirror Group Newspapers (MGN) oorweeg.

Hy is die eerste senior Britse koninklike in meer as ʼn eeu wat in die hof getuig.

Britse koninklikes het histories dieselfde praktyk as die monarg gevolg wat hul opvattings en menings oor die regering betref. As staatshoof van ʼn grondwetlike monargie is ʼn monarg veronderstel om bo politiek verhewe te wees. As sodanig het hulle grotendeels weggebly daarvan om in die openbaar kommentaar oor die regering te lewer.

Prins Harry het egter nie geskroom om sy standpunt en mening hieroor in die hof te lug nie.

Hy het tydens sy getuienis volgehou dat hy nie die saak vanuit ʼn vendetta teen die poniekoerante bring nie. Hy wil eerder hê dat “die mense wat die voorregte en magte van die media gekaap het” of onwettige middele vir hul eie gewin en agendas gebruik het, behoorlik vasgevat word.

Hy voer aan dat diegene wat verantwoordelik is hiervoor “geen bereidwilligheid getoon het om te verander nie” en dat dié mense tot verantwoording geroep moet word om te verhoed dat ander dieselfde lot as hy [Harry] ly.

“Op nasionale vlak word ons land tans wêreldwyd beoordeel deur die stand van ons media en ons regering, wat ek glo albei skipbreuk gely het,” het hy gesê.

“Demokrasie misluk wanneer jou pers nie daarin slaag om die regering te ondersoek en aanspreeklik te hou nie, en kies om eerder saam met hulle in die bed te klim sodat hulle die status quo kan verseker.”

Kritici het al by verskeie geleenthede gesê mediadekking rakende sekere politieke kwessies word ten gunste van die regerende party van premier Rishi Sunak skeefgetrek.

Sunak se amptelike woordvoerder het geweier om kommentaar op Harry se kritiek te lewer, wat ook beweer dat die polisie en regering “bang” is om die media aanspreeklik te hou.

“Ek dink jy het herhaaldelik van die premier gehoor oor die toestand van die land en sy prioriteite, maar ek gaan nie spesifiek daaroor kommentaar lewer nie,” het prins Harry aan verslaggewers gesê.

Oproepe vir statutêre regulering van die Britse media is ʼn kwessie op talle Britte se lippe sedert verskeie joernaliste by die nou ontbinde News of the World-poniekoerant vervolg is oor hulle onregmatige toegang tot selfone verkry het en omdat die ondersoek na die saak sloer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Nog ‘n akteur. Harry en Megan lief die media meer as enigiets anders. Hiermee wil hy juis hê die pers moet elke beweging van hul twee dophou en in detail in die pers beskryf met bygaande foto’s. Die twee kompeteer met William en Kate vir die voorblaaie. Selfs hierdie kamma-hofsitting is prima-aandagsoek en kry. Megan se oordadige hand is in hierdie teatrale gebaksel.

Bre ·

William en Kate is maar ook nie engeltjies nie. Hulle sondes word weggesteek. Moenie altyd net op Harry en Megan konsentreer nie… ai ai die mensdom darem

Bre ·

Dit gaan my verstand te bowe dat Harry en Megan altyd die sondebokke is. Die ander party is ook nie so wat wonders nie maar immers het Harry en Megan die moed om op te staan vir hulleself.

Marthinus W ·

Ek is nie n Harry ondersteuner nie, maar hy laat my baie aan sy oom, Edward VIII, dink [beide was soldaat, in n oorlog, het die werklikheid daarvan beleef; opgeleide vlieenier; raak verlief op n Amerikaner; doen afstand van sy erfreg vir die liefde], en ek het n rooibaard nes hy,. Hierdei opmerking van hom “Demokrasie misluk wanneer jou pers nie daarin slaag om die regering te ondersoek en aanspreeklik te hou nie, en kies om eerder saam met hulle in die bed te klim sodat hulle die status quo kan verseker.” is 100% in die kol. Dit is die probleem vandag. Die media sing saam in die regeringskoor, sonder dat hulle gedwing word. En dis in Europa, Amerika so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.