Brittanje se verpleegsters bereid om ‘tot Kersfees’ te staak

Verpleegsters en ondersteuners tydens ʼn staking in Februarie 2023 buite die St. Thomas-hospitaal (Foto: Wlktor Szymanowicz/NurPhoto/NurPhoto via AFP)

Verpleegsters in Brittanje is bereid om tot Kersfees te staak as hulle nie ʼn ooreenkoms met die regering kan bereik oor salarisse nie, het die leier van die land se grootste verpleegstersvakbond Sondag gesê.

Lede van die Royal College of Nursing (RCN) gaan aan die einde van April en die begin van Mei staak voor ʼn stemmery gehou word of hulle met die staking gaan voortgaan tot die einde van die jaar, het vakbondleier Pat Cullen gesê.

“As daardie stembrief suksesvol is, beteken dit dat hulle tot Kersfees sal staak,” het Cullen aan die BBC se Sunday with Laura Kuenssberg-program gesê.

Vakbondlede het Vrydag ʼn loonaanbod van die hand gewys en dadelik ʼn eskalasie in die staking aangekondig.

Daar was groot verwagting dat die verpleegsters in Engeland die 5%-verhoging sou aanvaar wat die RCN en die regering in Maart beding het. Nadat die aanbod aan lede voorgelê is, het 54% van die lede dit egter verwerp.

RCN-lede sal op 30 April van 20:00 vir 48 uur lank staak en die staking sluit vir die eerste keer personeel in by ongevalle, hoësorg en kankersorgeenhede.

Die verwerping van die loonaanbod is ʼn terugslag vir die regering, wat gehoop het om ʼn einde te bring aan die verlammende staking in die gesondheidsorgbedryf. Duisende operasies en afsprake is reeds gekanselleer.

“Groot teleurstelling”

Hospitaaldokters onder konsultantvlak het hierdie week ook vier dae lank gestaak oor beter salarisse en werkstoestande.

Cullen het gesê sy het Sondagoggend ʼn brief van Steve Barclay, minister van gesondheid, ontvang nadat sy gesprekke met hom versoek het oor verlede week se loonaanbod.

RCN-lede het verlede jaar vir die eerste keer in die vakbond se 108 jaar lange geskiedenis gestaak en aangesluit by staatsdiens- en privaat sektor werkers wat salarisverhogings geëis het te midde van stygende inflasie.

Die regering het gesê die RCN se verwerping van die aanbod is ʼn “groot teleurstelling” en dat dit “regverdig en vrygewig” was.

Buiten die 5%-verhoging in die volgende finansiële jaar, sluit die aanbod ook ʼn eenmalige bonus van minstens £1 250 (byna R30 000) per persoon in.

Twee ander vakbonde wat gesondheidsorgwerkers verteenwoordig, het nog nie hul uitslag van die stembrief oor die aanbod bekendgemaak nie.

Bestuurders in gesondheidsorg sê verdere stakings sal ʼn impak hê op die reeds lang waglyste vir behandeling wat eerste minister Rishi Sunak onderneem het om te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.