Britte dok meer as R3 miljard op vir Elizabeth II se begrafnis

Die briefie van Koning Charles III aan sy ma. (Foto: Daniel Leal / Pool / AFP)

Koningin Elizabeth II se staatsbegrafnis en verwante gebeure ná haar dood het Britse belastingbetalers byna £162 miljoen – dit is sowat R3,8 miljard – uit die sak gejaag, het die Britse regering Donderdag in sy eerste openbare finansiële skatting bekend gemaak.

Die aankondiging oor die koste van die koningin se begrafnis kom kort ná die kroning van koning Charles III wat vroeër vandeesmaand plaasgevind en Britse belastingbetalers nóg geld gekos het.

Die staatsbegrafnis vir Brittanje se langsdienende monarg, wat op 19 September gehou is, het ʼn reuseveiligheidsoperasie vir talle hooggeplaastes, onder wie staatshoofde en ander koninklikes, behels.

In ʼn geskewe verklaring aan die parlement het die Britse minister van finansies, John Glen, bevestig dat die algehele koste van die begrafnis altesame £161,7 miljoen beloop het, met die departement van binnelandse sake – verantwoordelik vir polisiëring – wat verantwoordelik was vir die grootste deel van dié uitgawes (£73,7 miljoen, of sowat R1,7 miljard).

Koningin Elizabeth II (Foto: Frank Augstein / POOL / AFP)

Die departement van kultuur, media en sport het na raming £57,4 miljoen (sowat R1,3 miljard) bestee en die Skotse regering sowat £18,8 miljoen (sowat R451 miljoen).

“Die dood van Koningin Elizabeth II op 8 September 2022 en die tydperk van nasionale rou wat daarop gevolg het, was ʼn groot en belangrike nasionale gebeurtenis,” het Glen gesê.

“Die regering se doelwit was dat die gebeure vlot en met die gepaste vlak van waardigheid verloop, terwyl dit ten alle tye die veiligheid en sekuriteit van die publiek verseker.”

Die uitgawes het egter nie daar gestop nie en belastingbetalers moes hul sakke weer vir koning Charles se kroning skud.

Buckingham-paleis het egter berigte dat die kroningsnaweek sowat £100 miljoen (sowat R2 miljard) gekos het, verwerp.

Veiligheid

Meer as 5 000 polisiebeamptes van regoor die land het tien dae gereed gestaan om veiligheid ná die koningin se dood en Charles se onmiddellike troonbestyging verlede September te verseker.

Die dag van die begrafnis was die grootste polisiëringsoperasie wat die Londense metropolitaanse polisie nog van stapel gestuur het en het selfs die opening- en afsluitingseremonies van die Olimpiese Spele in 2012 oortref.

Dié syfers is egter weer oortref tydens die kroningsnaweek van 6 Mei vanjaar, toe sowat 11 500 polisiebeamptes, personeel en vrywilligers aan diens was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

EK vermoed die begrafnis het heelwaarskynlik +/- £500 miljoen ingebring deur toerisme, uitsaai regte ensovoorts.

Annelize ·

Die Koningin het elke liewe sent wat spandeer was op haar begrafnis, meer as verdien.

Milestone ·

En ons het nie eens ‘n konsert soos na die kroningsplegtigheid nie.

George ·

Maar dieselfde mense hier, het gemoan oor Charles se £100mil coronation. Het ook meer as dubbel dit terug gemaak daai dag.

piket ·

Watwo! dis n druppel in die emmer teen wat in hierdie ” geliefde ” land van ons gekorrupteer word.
Hulle kan dit ten minste bekostig. Maar ja, n vermorsing van geld…………

piket ·

Glad nie n ” fan ” nie, maar QE het tot op die laaste haar werk gedoen. KUDU’S!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.