Britte gemaan om nie soos narre aan te trek nie

Argieffoto

Argieffoto

Polisieowerhede in verskeie gebiede in Engeland het inwoners gewaarsku om nie soos “killer clowns” aan te trek nie, ná talle berigte van mense wat glo deur dié neiging in Amerika geïnspireer is.

Die Thames Valley Police, wat ʼn groot deel van die gebied wes van Londen dek, het gesê beamptes is oor die naweek na 14 voorvalle ontbied “waar mense berig het hulle is geïntimideer of skrikgemaak deur persone wat soos hansworse aangetrek is”.

“Hul optrede kan vrees en angs veroorsaak en dit kan beskou word as intimidasie en ʼn bedreiging en dit kan tot ander openbareorde-misdrywe, inhegtenisnemings en ʼn kriminele rekord lei,” het hoofsuperintendent Andy Boyd in ʼn verklaring gesê.

ʼn Man, wat soos ʼn hanswors aangetrek was en ʼn mes by hom gehad het, het Vrydag vier kinders skool toe agtervolg in Chester-Le-Street. Die plaaslike polisie het gesê die kinders was “ontsteld en benoud”. “Ons glo dit is deel van ʼn groter neiging wat tans Amerika en dele van die Verenigde Koninkryk teister,” het sers. Mel Sutherland in ʼn verklaring van Durham-polisie gesê. “Die polisie ondersoek verskeie plasings op sosiale media wat toegewyd is tot hierdie ‘killer clown’-gier.”

Twee mense, wat as hansworse aangetrek was, het in Essex kinders naby ʼn skool genader en twee meisies na ʼn verjaarsdagpartytjie genooi voor hulle in ʼn swart bussie weggery het.

Die Essex-polisie het ook verskeie ander berigte ontvang van mense naby skole wat soos hansworse aangetrek is, het waarnemende adjunkhoofinspekteur Darren Deex gesê.

Maroela Media het vroeër berig oor die amok wat dié hansworse in Amerika saai en professionele hansworse wat hul misnoeë uitgespreek het met die sogenaamde “creepy clowns” wat mense probeer skrikmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Roger ·

…en die psigoses le diep in die samelewing. Iewers moet iets “pop” om die weer genepoel te verbeter.

Spikkel ·

Het die Amerikaners niks beters om hulle mee besig te hou nie???

neelsie ·

Glad nie nodig om jouself n hanswors te maak nie , hier is reeds n paar in die SABC en die parlement.

Karma ·

@neelsie – goeie, skerp een! En moenie van die 1000’e hansworse by die Universiteite vergeet nie! :-))

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.