Britte red leeu, wolf uit oorloggeteisterde Oekraïne

By kontrolepunte is die vrag verklaar as “‘n leeu en ‘n wolf”. (Foto: Tim Locks/Facebook)

ʼn Brit en twee van sy vriende het ʼn lewensgevaarlike reis deur Oekraïne onderneem om ʼn leeu en ʼn wolf, vasgekeer in ʼn dieretuin weens die voortslepende oorlog, veilig in Roemenië te besorg. Byna 2 000 kilometer later was Tim Locks en sy kosbare vrag veilig, al was dit ʼn hele paar grys hare later.

Locks en sy twee metgeselle het die vier dag lange sending onderneem danksy ʼn skarefinansieringsprojek om die leeu en die wolf te help red. Die dieretuin waar hulle aangehou was, is sowat 20 km van die voorste linie van Russiese magte geleë.

Locks, ʼn oorlogveteraan, was in die weste van die land besig om noodsaaklikhede daar te versprei, toe hy van die diere se lot te hore gekom het by ʼn natuurbewaarder wat hy in ʼn hotel raakgeloop het. Dit het hom nie lank gevat om aan die werk te spring en ʼn reddingsplan te beraam nie.

Die span het die afmetings van die hok geneem en uitgepluis hoe die diere agterin die gehuurde Ford-paneelwa gaan pas. Nadat hulle toiletware, doeke en formulemelk vir inwoners versamel het, het hulle die pad na Zaporizhzhia Oblast gevat, waar die dieretuin geleë is.

Locks was in die weste van die land besig om noodsaaklikhede daar te versprei, toe hy van die diere se lot te hore gekom het. (Foto: Tim Locks/Facebook)

Hulle het beurte gemaak om te bestuur en eindelik Saterdag by die voormalige toeristeaantreklikheid aangekom.

Die leeu, Simba, was reeds in ʼn hok. Akela, die wolf, is verdoof voordat sy ook in ʼn vraghouer geplaas is. Met behulp van ʼn hyskraan (en ʼn operateur wat geen woord Engels gepraat het nie, maar al te gewillig was om te help) is die twee diere drie uur later agterin die voertuig gelaai.

Akela, die wolf, is verdoof voordat sy ook in ʼn vraghouer geplaas is. (Foto: Tim Locks/Facebook)

Daar was maar enkele millimeters oor en nadat hulle weer al hul toerusting in die voertuig gelaai het, was daar nie plek vir ʼn muis nie.

Met polisiebegeleiding en die geloei van lugaanvalsirenes het die span weer in die pad geval. “Ons het mekaar heeltyd herinner dat ons ʼn leeu en ʼn wolf agterin die voertuig het en ons het heeltyd agterin geloer, oor ons skouers, om seker te maak hulle is daar,” het Locks gesê.

Deur die swaar bombardering van die Russiese magte het hulle hul vrag as “ʼn leeu en ʼn wolf” by ʼn kontrolepunte verklaar, berig metro.co.uk

“Een van die wagte het vir ons gesê daar is ʼn oorlog aan die gang en daar is nie tyd vir grappies nie. Ek het hom na die kant van die paneelwa geneem, die deur oopgemaak en vir hom hierdie behoorlike leeu gewys, soos Aslan uit [die rolprent] Narnia,” het Locks gesê.

Die span moes hul interpreteerder by die Oekraïense grens groet, omdat krygswet in hierdie stadium Oekraïense mans verbied om die land te verlaat. In Roemenië het hulle ʼn veearts ontmoet wat hulle met die papierwerk gehelp het en daarna het hulle weer in die pad geval na ʼn dieretuin in die stad Radauti.

Simba loer na sy redders op pad na sy nuwe tuiste. (Foto: Tim Locks/Facebook)

Die polisie het hulle deur drie streke begelei, met elke plaaslike polisiemag wat met flitsende blou ligte verseker het hulle vorder so vinnig as moontlik.

Akela neem ‘n blaaskans na die lang reis. (Foto: Facebook)

Vroeg Sondagoggend, byna 2 000 gevaarlike kilometer later, het hulle by die dieretuin aangekom en het die proses om die leeu en wolf by hul nuwe tuiste af te laai begin.

‘n Hyskraan lig Simba se hok uit die dieretuin. (Foto: Tim Locks/Facebook)

“Niemand het gedink ons gaan dit regkry nie, maar ons het die leeu ingekry en hy was doodtevrede. Ons het die wolf uitgedra, die hok weggeneem en die deur toegemaak – en daarna was dit tee-en-koekietyd met almal wat vra hoe ons dit vermag het.

“Dit is ʼn mooi, klein dieretuin met tiere en bere en ons het vir ʼn paar uur daar gebly,” het Locks vertel.

Die span is reeds weer terug op pad na Oekraïne om nog diere te probeer red en noodleniging te verskaf.

“Almal moet die land verlaat en daar is baie spanne wat na mense omsien. Vreemd genoeg wou niemand dit doen nie, so toe doen ons dit,” het Locks op Facebook geskryf.

Simba pas reeds goed aan in sy nuwe tuiste. (Foto: Facebook)

Die dieretuin in Roemenië het intussen laat weet dat Simba en Akela goed aanpas. Albei eet en drink lekker en rus ʼn bietjie uit ná die lang reis.

Locks is nie bang om moue op te rol en self iets aan die lot van die wêreld te help verander nie. Mirror.co.uk berig hy het in 2016 sy huis en al sy besittings verkoop en sy konstruksie-onderneming gesluit nadat hy nuusberigte van gruweldade wat deur die terreurgroep Islamitiese Staat (Isis) gepleeg word, gesien het. Hy het geen formele weermagopleiding nie, maar het nietemin saam met Koerdiese magte teen Isis geveg.

Honderde diere nog vasgekeer

‘n Seekoei in ‘n dieretuin in Oekraïne is een van honderde diere na wie omgesien word. (Foto: Bulent Kilic/AFP)

Sowat 400 verskillende spesies diere in Oekraïne se grootste dieretuin, die Mykolaiv-dieretuin, is steeds daar vasgekeer. Byna die helfte van die diere verskyn op die internasionale rooi lys van bedreigde spesies.

Daar is tans nie voertuie beskikbaar om die diere te vervoer nie en daar is deurlopend druk verkeer op die pad na Odessa. Dis boonop yskoud en daar is vrese dat diere soos die kameelperde, olifante en seekoeie ʼn reis nie sal oorleef nie.

Daar is egter geen manier dat die diere net versaak sal word nie, sê Wolodimir Topchyi. Sowat 100 werkers versorg steeds die diere en slaap selfs by die dieretuin sodat hulle nie deur die gevaarlike stad hoef te reis nie.

Die park is gesluit vir besoekers, maar mense koop steeds kaartjies ter ondersteuning van die dieretuin.

Bronne: metro.co.uk, mirror.co.uk, Facebook, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fritz ·

Wonderlike storie en ek is bly die leeu en wolf is gered. Ek wonder maar net oor die onkostes wat aangegaan is om hulle te red. Hier in SA loop daar duisende leeus rond in kampe. Gebruik eerder die geld om kinders uit die oorlog gebied te red.

Linda ·

Almal is God se skepping, en net so min as wat die kinders vir die oorlog gevra het, net so min het die diere daarvoor gevra. En die fondse het van ‘n skarefinansieringsprojek gekom. Dis wonderlik om te sien daar is nog mense in die wêreld oor met empatie vir diere en dat alles nie net om eie gewin vir hulle draai nie. Soos ons plaaslike man van Somerset Wes met die groot hart wat so vrygewig was vir die kunste en dies meer, maar intussen R 500 miljoen plus laat verdwyn het.

Helene ·

Mooi storie. Die man se hart sit op die regte plek. Ek sou dit ook gedoen het. Respek!!

sopbeen ·

Kindertjies, oumensesies en diere is die wat die seerste kry. Zelensky moet eerder handsup en sy mense hierdie leed spaar.

Swerwer ·

Dit is hartverskeurend en terselfdertyd wonderlike nuus om te dink dat daar nogsteeds mense is wat na die diere omsien in uiters gevaarlike situasies. Hierdie ANC Kader van Suid Afrika moet hul koppe in skaamte laat sak om te dink dat hul Bloemfontein se dieretuin se ondergang beteken het.

Andre ·

Wonderlike diens wat hulle gelewer het. Maar dit laat mens tog wonder, hoe is dit dat mense dan blykbaar “vasgekeer” is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.