Broers drink urine om onder puin te oorleef

Abdulbaki Yeninar en Muhammed Enes Yeninar saam met ‘n reddingswerker. (Foto: Twitter)

Twee Turkse broers is ná byna 200 uur onder die puin van hul ineengestorte woonstelblok in verwoeste Kahramanmaras gered nadat hulle proteïenpoeier geeët en hul eie urine gedrink het om te oorleef.

Abdulbaki Yeninar (21) en sy broer Muhammed Enes Yeninar (17) het noodgedwonge liggaamsbou-aanvullings onder mekaar gerantsoeneer en hul eie urine gedrink om te oorleef voordat hulle uiteindelik ná nege dae uit die puin getrek kon word, berig The New York Times.

Dit gaan goed met albei broers.

“Ek was heel gerus. Ek het geweet ek sou gered word. Ek het net gebid,” het Abdulbaki ná die redding aan die plaaslike nuusagentskap Ihlas News Agency gesê. Die twee was in ʼn klein ruimte in hul woonstel vasgekeer, waar hulle toegang tot die poeier kon kry.

Muhammed het na sy ma gevra, wat twee dae voor hulle uit die puin getrek en na ʼn hospitaal in die nabygeleë stad Kayseri geneem is.

ʼn Kragtige aardbewing van 7,8 gevolg deur ʼn groot naskok het op 6 Februarie groot verwoesting in Turkye en Sirië aangerig. Reddingswerkers soek meer as ʼn week later steeds onverpoos na moontlike oorlewendes. Die dodetal het reeds 40 000 verbygesteek het.

Die kans op oorlewing vir diegene wat nog in die puin vasgekeer is, word egter ál skraler. Kenners skat dat ʼn mens moontlik tot solank as ʼn week onder die puin kan oorleef, afhangend van sy of haar beserings.

‘Ergste natuurramp in eeu’

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vandeesweek gesê die aardbewing, waarvan die episentrum in Turkye was, is die “ergste natuurramp” in 100 jaar in sy Europa-streek.

“Ons beleef die die ergste natuurramp in die WGO se Europese streek in ʼn eeu en ons kom steeds meer oor die omvang daarvan te wete,” het Hans Kluge, die WGO se streeksdirekteur vir Europa, Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gesê.

Die WGO se Europese streek bestaan uit 53 lande waaronder Turkye. Sirië is ʼn lid van die WGO se naburige Oostelike Mediterreense streek.

Kluge het ook die WGO se reaksie op die aardbewing as “die grootste ontplooiing van mediese noodspanne” in die geskiedenis van 75 jaar van die WGO se Europese streek bestempel.

Altesaam 22 mediese noodspanne van die WGO is sedert die aardbewing in Turkye ontplooi. Reddingswerkers van Suid-Afrika is ook op die toneel.

“Die behoeftes is groot en neem elke uur toe. Sowat 26 miljoen mense regoor beide lande het humanitêre hulp nodig,” het Kluge gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Dank die Vader vir nog oorlewendes. Als is moontlik wanneer jy glo. Goeie brokkie nuus vir die dag.

George ·

Interesante ding van uriene, jy moet dit vroeer as later drink, hoe langer, dan kan dit jou vinniger laat agteruit gaan. Baie bly die twee is ook gevind! Die trauma, ek wil nie eers indink nie

TruthDealer ·

Hoe ook al, ek dra nie kennis van die urine kwessie nie, maar eks baie bly die 2 broers kon darem oë toeknyp en die nodige doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.