Broers gesoek na Parys-terreuraanval

Die swart motor in die agtergrond is glo deur die aanvallers gebruik om te vlug. Foto: Melissa Lapeyre op Facebook.

Die swart motor in die agtergrond is glo deur die aanvallers gebruik om te vlug. Foto: Melissa Lapeyre op Facebook.

Die polisie in Parys is op soek na twee broers in verband met die skietdood van 12 mense by die Franse satiriese koerant Charlie Hebdo se hoofkantoor.

Die derde verdagte het homself glo aan die polisie oorgegee. Die twee broers is geïdentifiseer as Cherif Kouaschi (32) en Said Kouachi (34). Cherif is in 2008 tot drie jaar tronkstraf gevonnis nadat hy rekrute na Irak gestuur het om vir Al-Kaïda te veg.

Die twee broers, albei Franse burgers wat in Parys gebore is, se identiteitskaarte is deur die polisie in hul wegkommotor gevind, het die Franse tydskrif Le Point berig.

Agt joernaliste, insluitend die redakteur van Charlie Hebdo en talle bekende spotprenttekenaars, is in die aanval dood.

Twee gemaskerde mans met outomatiese gewere het Woensdagmiddag die koerant se kantore binnegestorm. Hulle het volgens ooggetuies geskree “Allah is groot” en “die profeet is gewreek”.

Charlie Hebdo, wat bekend is vir sy onwrikbare standpunt oor vryheid van uitdrukking, het in die verlede spotprente van die profeet Mohammed gepubliseer. In November 2011 is ʼn petrolbom deur die voorruit van die tydskrif se kantore gegooi.

Derduisende mense het intussen Woensdagaand in stede regoor Frankryk bymekaargekom om die slagoffers te onthou. President Francois Hollande het ook ʼn dag van nasionale rou aangekondig vir die slagoffers wat gesterf het vir “vryheid”. Hy het hulle as helde beskryf.

Vlae in Frankryk sal vir drie dae halfstok hang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.