Bron van paartjie se vergiftiging geïdentifiseer

Dawn Sturgess (Foto: Facebook)

Britse polisiebeamptes wat die vergiftiging van twee persone met die senumiddel Novichok ondersoek, glo hulle het die bron van dié dodelike middel gevind.

Maroela Media het vroeër berig Dawn Sturgess (44) van Durrington, is Sondagaand (8 Julie) in die hospitaal oorlede nadat sy aan die senumiddel blootgestel is. Beamptes het ʼn saak van moord ondersoek.

Die Britse polisie het in ʼn verklaring gesê ʼn nadoodse ondersoek is vir 17 Julie geskeduleer en die geregtelike doodsondersoek sal na verwagting op 19 Julie afgehandel wees.

Haar lewensmaat, Charlie Rowley (45) het intussen sy bewussyn herwin. “Charlie bly in ʼn ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal.”

Beamptes het Woensdag ʼn klein botteltjie in Rowley se huis in Amesbury gevind. Dit is na die weermag-, wetenskap- en tegnologie-laboratorium (DSTL) geneem vir verdere toetse, aldus die verklaring. “Wetenskaplikes het nou, ná die toetse, bevestig die middel in die botteltjie is wel Novichok. Verdere toetse sal gedoen word om te bepaal of dit dieselfde samestelling is waaraan Sergei en Joeilia Skripal in Maart blootgestel is. Dit vorm steeds deel van die ondersoek.”

Maroela Media het vroeër berig Skripal (67), ʼn voormalige Russiese spioen, en sy dogter het die vergiftiging oorleef en is sedertdien uit die hospitaal ontslaan. Hulle is na ’n onbekende plek gestuur is vir hul eie beskerming. Dokters weet nog nie wat die langtermyninvloed op hul gesondheid gaan wees nie. Brittanje het Rusland daarvan beskuldig dat hy die Skripals vergiftig het. Moskou het egter die bewering ten sterkste ontken.

Nadat Sturgess en Rowley vergiftig is, was die polisie nie seker of die vergiftigings met mekaar verband hou nie.

“Die ondersoek duur voort om te bepaal waar die bottel [wat in Rowley se huis gevind is] vandaan kom en hoe dit in Charlie se huis beland het,” het die polisie gesê.

Neil Basu, hoof van die teenterrorisme-polisiëring in die Verenigde Koninkryk, het gesê dit is ʼn beduidende en positiewe ontwikkeling. “Ons kan egter nie waarborg dat daar nie enigiets meer van die middel oor is nie en versperrings sal nog vir ʼn lang tyd in plek bly. Dit gun ons die geleentheid om ʼn deeglike soektog te doen as ʼn voorsorgmaatreël vir openbare veiligheid en om die ondersoekspan by te staan.”

Basu het gesê hy besef daar is groot belangstelling in die saak, maar hulle kan nie in hierdie stadium verdere besonderhede oor die botteltjie bekend maak nie. “Die veiligheid van die publiek en ons beamptes bly die prioriteit. Ons werk saam met die Wiltshire-polisie, wetenskaplikes, gesondheidskenners en ander vennote.”

Ongeveer 100 lede van die teenterreur-polisiëringsnetwerk is deel van die ondersoek saam met hul kollegas van Wiltshire-polisie.

“Beamptes het ook reeds met Charlie gesels en dié gesprekke sal voortduur om te bepaal hoe hy en Dawn vergiftig is. Die gesprekke word gehou in konsultasie met die hospitaal en dokters.”

Aldus die polisie is daar nie enige verdere gevalle van vergiftiging aangemeld nie. “Die departement van openbare gesondheid in Engeland maan die publiek om nie enige vreemde voorwerpe soos naalde, inspuitings, kosmetiese produkte of soortgelyke voorwerpe wat van metaal, plastiek of glas gemaak is, op te tel nie. As jy dit nie laat val het nie, moet dit nie optel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

007 waar is jy? ‘n Nuwe filmrol wag… met hoogdrama… en leef die reus met die staalgebid nog… seker want dit was beslis hy wat die botteltjie gif kom plant het? Rusland… Rusland…. Putin en sy bloedbroer Trump se onderduimse sameswerkings is mos die’ week op die agenda. Sekerlik was die onlangse geval weer gerig op baasspioene van Brittanje… en Brexit… die edele planne van die edele Britte en die meer as edele EU wat selfs die edele Mede en Perse betower… Ons wag opgewonde op WO3…. ‘n heerlike vooruitsig met al Rusland se olie en gas en diamante en uitgestrekte vlaktes vir landbou net vir ons… al sterf miljoene mense in die proses…

Realis ·

Ek wonder oor die Novichok vergiftiging. Hoekom wil Engeland nie toelaat dat die Russe ook van die gif toets nie? Wat wil hulle wegsteek? Volgens Russiese wetenskaplikes werk Novichok nie om mense een-een te vergiftig nie. Dis ‘n binêre stelsel en die chemikalieë wat Novichok vorm word gemeng by ontplooiing. Die Engelse het ‘n enorme chemiese laboratorium opgerig waar hulle geheime navorsing oor senugasse doen. Kyk na die Russe se teenargumente en dink daaroor. Dalk wil die Britte net die Russe in ‘n slegte lig stel om iets weg te steek. Alles op Youtube te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.