Brouery lê duisende af weens Covid-19

Heineken beoog om duisende mense af te lê, terwyl die Covid-19-pandemie die gasvryheidsbedryf steeds lamlê. (Foto: pixabay)

Die Nederlandse broueryreus Heineken gaan 8 000 mense wêreldwyd aflê terwyl die voortslepende Covid-19-pandemie die grootste gedeelte van die gasvryheidsbedryf steeds lamlê.

Heineken, die wêreld se tweede grootste bierbrouer, sê hy het verlede jaar ʼn netto bedryfsverlies van €204 miljoen (sowat R3,6 miljard) gely, ʼn 109%-daling in wins sedert die vorige jaar.

Dolf van den Brink, uitvoerende hoof van Heineken, sê dit was ʼn “jaar van ongekende ontwrigting en oorgang” vir die maatskappy.

“Die Covid-19-pandemie en regerings se maatreëls hou aan om ʼn wesenlike uitwerking op ons markte en sake te hê,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Verkope het met 17% gedaal tot €23 miljard (sowat R410 miljard) terwyl kroeë en kuierplekke in talle lande gesluit bly.

Teen die einde van verlede maand was minder as 30% van kuierplekke in Europa oop, het hy gesê.

Heineken het in Oktober aangekondig dat herstrukturering nodig is om salarisuitgawes te besnoei, maar het toe geen aanduiding gegee van hoeveel werkers afgelê gaan word nie.

“Die algehele herstruktureringsprogram sal ons werkerskorps met nagenoeg 8 000 mense verminder,” lui die verklaring.

Dit sluit in afleggings by die brouer se hoofkantoor in Amsterdam, terwyl ander afleggings sal afhang van plaaslike omstandighede.

Heineken is in die 19de eeu in Amsterdam gestig en verkoop meer as 300 handelsmerke, waaronder sy eie, asook ander soos Strongbow en Amstel.

Die maatskappy verskaf wêreldwyd werk aan meer as 85 000 mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Spekkies ·

Wonder hoeveel werk in SA en gaan by die werkloosheids statistiek gevoeg word?

Es ·

Is ek net deurmekaar of sê mens iemand word afgedank eerder as “afgelê”?

Vlerkie ·

Ek sou glo dat afgedank, iemand as gevolg van ‘n kwaadwillige daad afgedank word. Afgelê sou wees wanneer ‘n Maatskappy noodgedwonge ‘n besluit moet neem om personeel te verminder om te probeer om die Maatskappy te red van ondergang. Indien daardie poste weer beskikbaar raak later, moet die afgelegde persone eerste opsie kry om weer die poste te vul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.