Bruidegom vermoor bruid, gaste by bruilof

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

’n Thaise para-atleet en oudsoldaat het sy bruid en drie ander mense Saterdag by die onthaal na sy huweliksbevestiging doodgeskiet. Chaturong Suksuk (29) het daarna ook sy eie lewe geneem.

BBC News berig Suksuk en Kanchana Pachunthuek (44) het Saterdag in die noordooste van Thailand getrou voordat die tragiese gebeure ontvou het.

Volgens die polisie se inligting het Suksuk die onthaal later die aand “skielik” verlaat en kort daarna met ’n vuurwapen teruggekeer.

Hy het sy vrou, haar 62-jarige ma en 38-jarige suster doodgeskiet voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.

Die polisie sê dwaalkoeëls het twee van die gaste getref en ernstig gewond. Een van dié gaste is later in die hospitaal dood.

Die Bangkok Post berig die voorval het om 23:25 plaasgevind by ’n huis in die Wang Nam Khiao-distrik waar die onthaal gehou is.

Die Thaise polisie het aan BBC gesê Suksuk “was nogal besope”, maar dat die motief vir die skietery nog onbekend is.

Hulle het ook bevestig dat hy die betrokke vuurwapen en ammunisie verlede jaar wettig aangeskaf het.

Thaise media berig dat die pasgetroudes glo in ’n argument betrokke was voordat die skietery plaasgevind het. Gaste het ook bewerings aan die media gemaak dat Suksuk bedenkinge oor die ouderdomsgaping tussen hom en sy bruid gehad het.

Die polisie sê egter alle bewerings is in dié stadium blote bespiegeling, en dat hulle nog besig is om die nodige bewyse in te samel om die ondersoek af te handel.

BBC berig die egpaar het drie jaar saam gewoon voordat hulle Saterdag getroud is.

Suksuk het verlede jaar ’n silwermedalje in swem by die ASEAN-paraspele in Indonesië verower. Hy sou na verwagting volgende maand aan die World Abilitysport Games in Thailand deelneem.

Suksuk het sy regterbeen destyds in ’n weermagverwante ongeluk verloor.

Hoewel massaskietvoorvalle skaars is in Thailand, is wapeneienaarskap algemeen.

Drie mense is verlede maand in ’n skietery by ’n luukse winkelsentrum in Bangkok vermoor, terwyl 37 kinders Oktober verlede jaar deur ’n voormalige polisieman by ’n kindersorgsentrum in die noordooste van Thailand vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Schalk ·

Slegte tyd om te besluit jy hou nie van jou skoon familie nie en wil ook nie regtig trou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.