Brussel-verdagte vrygelaat weens gebrek aan bewyse

Die Belgiese federale polisie probeer steeds om dié verdagte uit te ken (Skermskoot uit die video)

Die Belgiese federale polisie probeer steeds om dié verdagte uit te ken (Skermskoot uit die video)

ʼn Persoon wat in aanhouding was en aangekla is van terreurdade in Brussel, België, is vrygelaat weens ʼn gebrek aan getuienis, het die Belgiese federale staatsaanklaer Maandag gesê.

Die staatsaanklaer se kantoor het in ʼn verklaring gesê die man is gevolglik vrygelaat deur die ondersoekende landdros.

Maroela Media het vroeër berig plaaslike media het Saterdag gesê die derde verdagte in die bomontploffings by Brussel-lughawe is uitgeken as ʼn vryskut verslaggewer, Faycal Cheffou. Belgiese media het aangevoer dit is Cheffou op die foto saam met die twee mans wat hulself by die lughawe opgeblaas het. Volgens die media was hy die man in die ligte baadjie met ʼn hoed op sy kop.

Die Belgiese federale polisie het egter Maandag die publiek versoek om hulle te help om die man in die video te identifiseer. Die man in die ligte baadjie se bom het glo nie afgegaan nie.

Twee ontploffings het op 22 Maart in die vertreksaal by die Zaventem Internasionale Lughawe plaasgevind. ʼn Derde ontploffing het by Maelbeek-metrostasie naby die Europese Unie se kantoor plaasgevind.

Maggie de Block, Belgiese minister van gesondheid, het Maandagoggend op Twitter bevestig die amptelike dodetal staan op 35 nadat nog vier slagoffers gesterf het. Minstens 270 persone is beseer.

Ibrahim Bakraoui en Najim Laachraoui het hul toestelle in die lughawe laat afgaan, terwyl Ibrahim se broer, Khalid, sy selfmoordbom by die Maelbeek-stasie laat afgaan het.

Lees alle vorige berigte oor die Brussel-aanvalle op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

Wat sê Cheffou, is dit hy op die video? Skynbaar is dit die media wat sê dit is hy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.