Bus tref siggestremde in Paralimpiese dorpie

Argieffoto van die ingang van die Olimpiese en Paralimpiese dorpie in Tokio. (Foto: Behrouz MEHRI / AFP)

’n Siggestremde man is vandeesweek deur ’n selfbestuurde bus in die Paralimpiese dorpie in Tokio getref.

Die organiseerders het gesê die ongeluk het Donderdag plaasgevind toe ’n elektriese bus op ’n voetoorgang “kontak gemaak het” met ’n siggestremde voetganger.

Die man is ná die voorval ondersoek en het volgens organiseerders geen “uitwendige beserings” tydens die ongeluk opgedoen nie.

Plaaslike media berig egter dat die man tydens die voorval geval het en twee weke sal benodig om van sy beserings te herstel. Luidens mediaberigte is die man ’n atleet wat aan die Paralimpiese Spele in Tokio deelneem.

Die Japannese koerant Asahi Shimbun berig dat twee busoperateurs, wat toesig hou oor die outonome pendeldiens, die atleet opgemerk het, maar aangeneem het dat hy vir die bus sou wag terwyl die voertuig nader gekom het.

Die man het glo geen wandelstok by hom gehad nie en ’n verkeersbeheerwag was aan diens by die betrokke oorgang.

Die bus het ten tyde van die voorval vyf passasiers vervoer. Hulle is almal ongedeerd.

Toyota, wat die elektriese busse vervaardig wat in die Olimpiese dorpie gebruik word, het intussen die pendeldiens in die Paralimpiese dorpie opgeskort en om verskoning gevra vir die voorval.

“Die pendeldiens in die dorpie is tydelik opgeskort en die bedrywighede sal hervat word sodra dit veilig geag word,” het die organiseerders bevestig.

Nóg Tokio 2020 nóg Toyota het die man geïdentifiseer wat deur die elektriese bus getref is. Verskeie plaaslike media het egter die beseerde voetganger as die Japannese judoka Aramitsu Kitazono geïdentifiseer.

Die openbare uitsaaier NHK berig dat Kitazono Saterdag sy wedstryd sal misloop weens “sy slegte fisieke toestand”.

Volgens sy afrigter is die besluit geneem nadat hy met Kitazono gepraat en hy ’n dokter geraadpleeg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JM ·

Ai, só jammer dat die man seergekry het en nie aan sy item sal kan deelneem nie; ‘n groot teleurstelling vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.