Busongeluk: ‘Ons sal sy glimlaggende gesiggie altyd onthou’

Jacques Venter

Sondagoggend omstreeks 06:00 het ʼn vrolike luim by Windhoek Gymnasium in Namibië geheers. Die gr. 7-klas sou binnekort op ʼn kulturele toer vertrek, ʼn afskeidstradisie waarin die leerders vaarwel roep aan hul laerskooljare. Daar was ʼn gewoel van mense, kinders wat gelag en gesels het en uitgesien het na die toer wat al jare lank opbou.

“Vir die afgelope agt jaar hou die skool die toer, waar die kinders na die Oranjerivier vertrek om met kano’s op die rivier te roei. Dis lekker spanbou vir die kinders,” verduidelik Windhoek Gymnasium se besturende direkteur, Colette Rieckert.

Drie ure later lui ouers se fone met boodskappe en oproepe, die tweede bus wat op pad was na dié avontuurweek se verblyf het gerol. Angela Maiba en Jacques Venter het in die ongeluk gesterf. Hulle was deel van ʼn groep van 55 leerders wat op die bus was toe dit tussen Mariental en Kalkrand omgeslaan het.

Emeritus ds. Kobus Venter, Jacques se oupa, vertel aan Maroela Media dat die 13-jarige Jacques, een van drie kinders, ʼn baie saggeaarde, blymoedige kind was. “Hy het onlangs sy eerste bok, ʼn rooihartbees, geskiet. Hy het saam met sy pa gaan jag en hulle was albei baie trots op die trofee. Dis mos maar tradisie as jy jou eerste bok skiet om die bok se bloed op jou gesig te smeer, maar Jacques wou nie.”

Venter sê in al sy jare in die bediening het hy nog nooit so ʼn fenomenale saamtrek van ondersteuning gesien nie. “Ek weet nie wat dit is omtrent die storie nie, maar ons hoor van oral, ons kry boodskappe van so ver as Frankryk en Australië. Die tragedie het die wêreld aangegryp. Mense vereenselwig hulle met ons seer.

“In my bediening het ek al baie pyn gesien, kinders wat hul ouers aan die dood afstaan, egskeidings, maar die ergste pyn is wanneer jy ʼn kind verloor, veral op só ʼn jong ouderdom.”

Venter sal volgende week Dinsdag sy kleinkind se roudiens lei. “Eers hou ons begrafnis en dan is dit sy sussie se matriekafskeid. Dis bitter hartseer. Hulle het Saterdag nog by die Gross Barmen-oord, net buite Okahandja, baljaar. Ons sal sy glimlaggende gesiggie altyd onthou.”

Angela Maiba

Emilie Maiba vertel haar 13-jarige grootoog-dogter was haar engel. “Angela was so ʼn lieflike kind. Sy was ʼn steunpilaar in ons huisgesin, een waarop jy kon staatmaak en waarop jy kon leun vir ondersteuning.”

In ʼn telefoniese onderhoud vertel haar ma dat Angela, een van vyf kinders, mal was oor haar maats en dat sy op die eerste bus sou vertrek, maar besluit het om eerder vir haar maats te wag en saam met hulle op die tweede bus te ry. Sy het oral maats gemaak, verduidelik haar ma.

Die Maiba-gesin het einde verlede jaar teruggetrek Namibië toe, na hulle vier en ʼn half jaar in Ethiopië gewoon het en Angela het in September verlede jaar by Windhoek Gymnasium aangesluit. “Oral waar Angela gegaan het, het sy vriende gemaak. Boodskappe van ondersteuning stroom uit alle oorde in, selfs van haar ou maats in Ethiopië.”

Maiba vertel hoe Angela haar sou ontferm oor jonger kindertjies en dat hulle huis altyd vol was van maats wat kom kuier het. “Sy het al die kindertjies uit haar eie uit klasse gegee om hulle te help met hul balans, oog-hand-koördinasie en so meer. En sy het niks terugverwag nie.”

Angela wou altyd ʼn veearts word, maar na ʼn rugbesering in Maart vanjaar was sy opgeneem in die hospitaal waar sy ʼn neurochirurg moes sien. “Van daardie oomblik af wou sy meer weet van neurochirurgie. Sy wou net almal help en het altyd wat sy kon aan ander gegee. Ek het nog nooit nodig gehad om te skel en te skree of haar te dissiplineer nie, sy was so ʼn lieflike kind.

“Sy het geleef vir God. Ek twyfel nie ʼn oomblik dat sy nou by die Here is nie. Sy was mal oor haar Bybel en het dit oral met haar rondgedra, selfs skool toe. Sy wou almal van Jesus leer.” Angela se begrafnis vind vandag plaas.

Helena Wilders, Angela se register- en Wiskunde-onderwyser, beaam dit. “Sy was baie vredevol, ʼn stil kindjie gewees en ʼn vredemaker. Sy was ʼn akademiese uitblinker en het my elke dag na Wiskunde ʼn drukkie gegee. Ek gaan dit vreeslik mis.”

‘n Roudiens word Donderdag vir Angela en Jacques by die skool gehou.

Ander sterk aan, gemeenskap tree in

Blomme en kerse wat brand voor die skool na die ongeluk.

ʼn Hele aantal kinders is ernstig in die ongeluk beseer, maar Rieckert sê hulle sterk goed aan. “Een van die leerlinge is Dinsdagoggend ontslaan, vier is nog in die hospitaal. Hulle beserings het gestrek van gebreekte knieë en sleutelbene, tot snye in die gesig en hoofbeserings, maar toe ek vroeër by hulle in die hospitaal was, was hulle pyn onder beheer.”

Die ondersteuning uit die gemeenskap was ook ongelooflik, sê Rieckert. “Ons het Sondagaand al die ouers by die skool ontmoet en daar was ʼn span van sowat 30 beraders wat hulle bygestaan het. Die stemming was baie hartseer, maar ook met soveel liefde en deernis gevul. Ons kry ook finansiële ondersteuning van die gemeenskap af, van ambulanskoste tot hospitaalkoste. Die ondersteuning is net amazing, die hele land staan agter ons.”

Daar sal die eerskomende Maandag, wanneer die skool weer open, ʼn span van 12 beraders na die Windhoek Gymnasium gaan om berading aan die leerders te gee. “Ons begin Maandag want van die leerders is nog te geskok om nou al die ongeluk te verwerk. Die lewensverryking wat nou saam die hartseer proses kom, sal ook hulle lewens verander.”

Drank was glo betrokke

Die omgeslaande bus. (Foto: Verskaf)

Die 33-jarige busbestuurder, Uasora Uanivi, is intussen Dinsdag in die landdroshof in Mariental borgtog geweier waar hy vlugtig voor landdros Anna Kruger verskyn het. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van dronkbestuur en strafbare manslag.

Die Republikein, ʼn Namibiese koerant, berig dat ooggetuies beweer die bestuurders van twee busse soortgelyk aan dié wat die gr. 7’s van Windhoek Gymnasium vervoer het, is vroeg Sondagoggend op ’n ongelukstoneel oos van Windhoek opgemerk waar ’n vragmotor vol bier omgeslaan het. Hulle het na bewering met sespakke van die toneel af teruggekeer na die busse toe.

Foto’s is Sondagaand op Facebook geplaas van sespakke wat onder die bestuurdersitplek van die buswrak buite Mariental gevind is. Dit is van dieselfde soort bier wat deur die vragmotor vervoer is wat buite Windhoek omgeslaan het.

Die bewerings word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

KaterinaKat ·

Ai die arme kinders en hul geliefdes..dis verskriklik.

Arno Scheepers ·

My hart bloei vir die twee ouerpare.
Ek bid julle sterkte toe vir die pad vorentoe.
My seun is getroud, ek weet hoe ek hom mis as ek hom vir n week nie sien nie.
Baie sterkte

Johanna ·

Ag hoe hartseer. Sulke pragtige kinders. Mag die Here vertroosting bring aan die die ouers, familie, vriende en maatjies.

Pieter ·

Dit is sooooo hartseer. Ek is ook n oupa en weet nie hoe ek sou reageer as dit my kleinkind was nie. Ek wil nie negatiewe kommentaar lewer nie en vra maar net of daar nie n Onderwyser saam op die bus moes wees nie wat dan teen die busdrywer kon optree het tydens sy swak/roekelose/kriminele optrede nie. Die verlies is n seer wat nooit weggaan nie. Ek is saam met jle HARTSEER

Jana ·

Daar was onderwysers in die bus. Die bestuurder het egter geen tekens gewys dat hy gedrink is nie en het vermoedelik op die bus een na die ander bier gedrink. Dis n groot bus en die onnies en kinders sit agter hom so al sien mens hy drink iets sal mens aanneem dis koeldrank. As onderwyser kan ek getuig dat met 55 kinders op n bus om na om te sien, gaan mens glad nie nog dink om te kyk wat die bestuurder drink nie. Hy het nie roekeloos bestuur nie. Alles was normaal tot hy (vermoedelik) aan die slaap geraak het en toe binne sekondes beheer verloor en die bus omgeslaan het. Boonop word daardie bus maatskappy al vir 10 jaar deur die skool gebruik en die bestuurders was nog altyd verantwoordelik en puik, dus het die onderwysers hom vertrou en geen rede gehad om onraad te vermoed nie ????

Lee ·

Baie sterkte aan beide ouer -pare en boeties en sussies. Dis so hartseer xx

Amelia Steenkamp ·

Baie hartseer!!!!!Sterkte aan al die families.Julle is in my gebede.

Zorro ·

Busbestuurders van kinders moet getoets word met ‘n breathalyser voor dat hy wegtrek. Dit is baie belangrik. Daar is in elk geval ander onderwysers op die bus wat die toets kan uitvoer.

Koos ·

Zorro, ek is sat daarvoor om in n wereld deel te woon waar alles gepolisieer moet word. As elkeen tog maar net sy eie verantwoordelikheid wil nakom !

Ek sit baiekeer laerskool kinders op sportoere hier in Namibië. Nou sal mens dit ook nog moet doen.

JJ ·

My gebede is met elkeen wat hierdeur geraak word. So ongelooflik hartseer. Rus in Vrede kinders.

Meraai ·

Liewe genade – die busbestuurder is aangekla vir DRONKBESTUUR???!!!! Hoe op aarde kan die skool toelaat dat hulle leerders se veiligheid toevertrou word aan ‘n persoon wat onder die invloed agter ‘n stuurwiel inklim? Ek is jammer, maar daardie man moet beslis ‘n baie baie swaar straf opgelê word. My hart is seer vir die ouers wat kinders moes groet op so ‘n wyse. Sterkte aan al die ander leerders en onderwysers wat beseer en erg getroumatieseer is.

Jeanne ·

Meraai, die bus was ‘n een van twee wat gehuur was van Sunshine tours. Die drywers het die Sondag oggend die busse vanaf die Sunshine depot buite Windhoek geneem tot by die skool, waar hulle die kinders opgelaai het. Tussen die depot en die skool het die busdrywers op ‘n omgeslane trok afgekom wat bier gedra het. Hulle het hulself daar gehelp aan van die bier. Hulle moes die bier oppad gedrink het, dis wat ek verstaan. Ek dink werklik nie die skool sal “toelaat dat die kinders op ‘n bus klim met ‘n besope drywer agter die stuur nie.”

Patch ·

Ek weet nie wat dit is om ‘n kind te verloor nie maar ek kan myself indink die hartseer wat jou hele lyf seermaak en jy wil skree om daarvan ontslae te raak. Aan die ouerpare my innige simpatie. Mag julle berusting vind en hierdie swaar tyd.

Boer ·

My kind is 22 jaar gelede dood. Die pyn gaan nooit weg nie. Rofies groei oor maar dan sien jy n kind wat lyk soos sy gelyk het of n beweging met n hand doen of enigiets van duisende onthoue. Dan breek jou hart weer van voor af. Ek het oud geword in kwessie van 3 maande toe sy dood is. Die Here help vir krag maar dis nie maklik nie.

christine ·

Baie sterkte aan ouers so hartseer en tragies .
Hoop bus bestuurder gaan tronktoe

Welgedaan ·

Dit is ongelooflik hartseer vir beide gesinne, my hart is so seer vir die famillies. Geen maar geen ouer verdien om deur sulke hartseer te gaan nie. Rus in vrede kindertjies…..

Susan ·

This is just SO sad and SO unnecessary! Two children had to die because the bus driver decided to drink alcohol while driving 55 precious children to a camp! This is NOT on. The next step for schools hiring external transporters is to breathalyze drivers BEFORE allowing the children to board the bus!

Carine ·

Susan, then they need to be tested every hour, because the drivers can be sober when the trip starts and start drinking only after departure. I just don’t understand how no one saw him drinking out of a beer bottle. Or did he pour it into a cup… whilst driving?

Stephan ·

Onderwysers op ‘n bus is daar om om te sien na die kinders, nie na die busbestuurder nie. Onderwysers is ook nie geregtig om busbestuurders se alkohol vlakke te toets nie. Kyk mooi – dit is nie ‘n skoolbus nie – dis ‘n bus wat deur die skool gehuur is. Daar is ‘n verskil. Maak seker voor jy jou mond uitspoel as jy nie die feite het nie.
Verder moet jy mooi lees – die busbestuurder het nie gestop, met die kinders in die bus, om bier op te tel nie. Waar staan dit in die berig? Die bewering is dat hy dronk was. Is dit al bewys? As ek met my drankaankope in my kar ry en ek rol die kar – was ek dan outomaties dronk? Snert.
Die feit van die saak is dat daar ‘n ernstige ongeluk was en dit is tragies. Sterkte aan die families en kinders.

Ja nee ·

Dankie tog hier is iemand met verstand. Stem 100% saam jou Stephan!

Penellope Jones ·

Ai tog, sulke pragtige jong kinders!!
Baie sterkte aan hul ouers en geliefdes.

J ·

Jaaa blameer die onderwysers, wat GLAD NIE op die bus hoef te wees nie, SLEGS in Skool voertuie. Dan kan ek vra, waar’s die kind se ouers dat hy moes busry?

Namgrl ·

Ai tog J….
‘waar’s die kind se ouers……. ‘

RIV liewe kinders….sterkte aan die ouers, skool gemeenskap as ‘n geheel.

Aster ·

Hulle ry juis saam as n groep vir spanbou. Ouers ry appart deur. Ons skool presies dieselfde gedoen n paar jaar terug. Ook deur Namibië getoer. Genadiglik het alles goed verloop. Baie sterkte en gebede vir almal betrokke.

Neilia ·

Dis so so hartseer n kind is Nie veronderstel om voor n ouer the sterf nie. Maar gee Sunshine tours om? Nee hulle adverteer op hulle Facebook blad net almal wat gelukkig is , toe Ek sê hulle adverteer geluk terwyl hulle skuldige is aan moord toe word Ek geblok. Geen simpatie op hulle blad niks nie. RIV engele jammer julle moes so gaan.

Ena ·

Here asb…hou hierdie ouers styf vas in U hande…hulle siele is verpletter…hul eie gees het gesterf.

Andre ·

As dit my kind was het ek daai busbestuurder met my kaalhande verwurg, ek sal gladly in die tronk gaan sit

Elmarie ·

Ons het ons seun ook 25 jaar op jong ouderdom verloor en dit is seer. Al vertroosting wat ons gehelp het is om by Jesus Christus se voete te bly en ons oë op Hom gerig te hou. Elkeen ervaar hartseer op sy eie manier en weet net dat ons seun altyd sal bly leef in ons harte en deel van ons sal bly ten spyte dat hy nou op ‘n ander plek is. Ons bid God se genade en vrede vir elkeen toe wat deur so trauma gaan.

Klaas ·

Bestuurders wat kinders vervoer op uitstappies moet deur die betrokke skool eers getoets word soos daar by ander instansies bv. myne gedoen word alvorens rut toegelaat word.

HARTSEER ·

Lees die berig weer. Die ongeluk het ver vanaf die beginpunt by die skool gebeur. Die busbestuurder het heel moontlik met die vertrek niks makeer om die skool te verplig om hom nie te laat bestuur nie. Die vermoede ontstaan dat hy langs die pad die alkohol ingeneem het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.