Byna 100 000 in beleërde Marioepol vasgekeer

‘n Satellietfoto van hoe Marioepol nou lyk. (Foto: Maxar Technologies / AFP)

Byna 100 000 mense is nog in die beleërde Oekraïense stad Marioepol vasgekeer waar ’n humanitêre krisis dreig en vasgekeerdes deur hongersnood en meedoënlose aanvalle in die gesig gestaar word.

Human Rights Watch beskryf die suidelike hawestad as ’n “vriesende hellandskap besaai met dooie liggame en vernietigde geboue”.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, sê in sy jongste video meer as 7 000 mense het die afgelope 24 uur uit Marioepol gevlug. Hy doen ’n dringende beroep op Rusland om humanitêre deurgange oop te stel sodat die oorblywende inwoners uit die stad kan vlug.

Volgens die Pentagon bombardeer Rusland Marioepol in dié stadium met artillerie en langafstandmissiele, terwyl vlootskepe in die nabygeleë Azofsee ontplooi is.

Plaaslike Oekraïense magte vertel van “hewige grondgevegte met Russiese voetsoldate wat die stad bestorm”. Dít nadat die magte Maandag geweier het om oor te gee aan Russiese magte.

Marioepol se voormalige burgemeester, Sergiy Taruta, het intussen gesê die stad sal nooit Rusland se beleg vergewe nie.

“Daar sal nooit genoeg woede wees nie. Daar sal nooit genoeg wraak wees nie. Daar sal nooit genoeg vergelding wees nie,” het Taruta op sosiale media gesê.

Antonio Guterres, hoof van die Verenigde Nasies, het Dinsdag ’n beroep op Rusland gedoen om sy “absurde oorlog” te beëindig.

“Selfs al val Marioepol, kan Oekraïne nie stad vir stad, straat vir straat, huis vir huis verower word nie.

“Hierdie oorlog is onoorwinbaar. Vroeër of later sal dit van die slagveld na die vredestafel moet verskuif. Dit is onvermydelik,” meen Guterres.

Marioepol is ’n deurslaggewende teiken in die Russiese president, Wladimir Poetin, se oorlog aangesien dit beskik oor ’n landbrug tussen Russiese magte in die Krim in die suidweste en Russies-beheerde gebied in die noorde en ooste.

Oekraïne val ook aan

Dit blyk dat Oekraïense magte vir die eerste keer self aanval. Die Oekraïners het Dinsdag Russiese magte in die suide van die land aangeval en kon só ’n dorp naby Kiëf terugneem.

“Ons sien beslis anekdotiese bewyse … dat die Oekraïners nie net goed verdedig waar hulle verkies om te verdedig nie, maar dat hulle pogings aanwend om grondgebied terug te neem,” het ’n senior Amerikaanse verdedigingsbeampte aan joernaliste gesê.

Volgens die Pentagon sukkel Rusland in dié stadium met “logistiek en instandhouding”.

“Ons dink hulle het bevels- en beheerprobleme,” sê die Pentagon-woordvoerder John Kirby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

casper ·

En die res van die wereld bekyk die slagting maar net op TV en doe NIKS om dit te stop nie !!

VaalDonkie ·

Inteendeel is dit die Weste en daai marionet-president van Oekraine wat hierdie hele ding veroorsaak het.

Thom ·

Natuurlik ___ Moskou word gebombardeer! En die ” Marionet “? Wat ‘n man en wat ‘ n staatsman !? Hy is intelligent , belese en vreesloos ___ ‘n voorbeeld vir ALLE leiers!

Luister ·

Ek verskil van jou VaalDonkie. Dit is diktator Poetin wat dink hy kan weer ‘n Russiese Ryk op die been bring, nes Hitler.

VaalDonkie ·

Ja ek is ook nie ‘n “fan” van Putin nie. Maar hulle het ‘n ooreenkoms gehad en Zelenski het dit verbreek nadat hy gewaarsku is.

tweeling ·

En jou oplossing is om oorlog te maak. As iemand ‘n ooreenkoms met jou verbreek gaan jy hom slaan en sy huis vernietig. Was daar voor die oorlog enige aanval met wapentuig op Rusland. Putin jaag spoke op wat nie bestaan nie.

VaalDonkie ·

Sedert 2014 pleeg Oekraine terreur teenoor etniese Russe in die ooste van die land. Gaan lees maar oor “Azov Batallion” se terreur.

Cryptogruppe ·

Nee, hulle doen niks- hulle gooi meer olie op die vuur en stuur nog meer wapens na ‘n mislukte staat, hopende dat die oorlog sal uitbrei.

Johan ·

Jy slaan die spyker op sy kop Cryptogruppe. Die Weste het die krisis veroorsaak.

Kokerboom ·

Ekt nie woorde vir die onmenslike Russiese gruweldade. Hoe regverdig jy dit? Het Putin geen gewete. Mag die wereld hom en sy chronie kaders baie hard straf. Mag Rusland van hom ontslae raak en ‘n demokrasie najaag

VaalDonkie ·

Demokrasie is net ‘n spoedhobbel oppad na diktatorskap.

Luister ·

Enige stelsel is wat die land en sy mense maak daarvan. Demokrasie kan ‘n dekmantel wees vir ‘n diktator soos in Rusland. ‘n Ope ekonomie kan ‘n dekmantel wees vir kommunisme soos in China.

Miskruier ·

Pasop dat die oorlog ons oë nie blind maak van wat orals elders in die wereld gebeur. Covid en sy beperkings is steeds met ons.

Grassie ·

Dit is vir my moeilik om te verstaan waarom die mense in Marioepol nog teenstand bied. Hulle was verskeie kere geleenthede gegee om tou op te gooi maar hulle veg voort in ‘n stryd wat hulle nie kan wen nie. Beteken die geweldige hoë sterftesyfer dan vir hulle niks? Die meeste van hul geboue en ander eiendom is reeds verwoes en die meeste inwoners het reeds padgegee om nie weer terug te keer nie want daar gaan niks wees om na terug te keer nie. Ek dink albei kante gaan nog deur die Skepper tot verantwoording geroep word vir hierdie sinnelose menseslagting.

tweeling ·

Want hulle is trotse onskuldige mense wat nou skielik alles moet opgee vir ‘n mags behepte diktator

Andre ·

Dit terwyk Rusland ‘n veilige deurgang bied. Fopnuus wys al weer hulle Biden kant.

Thom ·

Russe bly by geen ooreenkoms nie , nie eers vir ‘n enkele ddag nie.

VaalDonkie ·

Thom, ironies is dit Rusland wat by die Minsk ooreenkoms gebly het en Oekraine wat hul neuse daaraan afgevee het.

Colin ·

So jou huis word platgeskiet en dan bied die man wat dit gedoen het vir jou slaapplek in ‘n tent? En enigiemand sal dit natuurlik met ope arms aangryp!

Marthinus W ·

Dis weens die Azof-bataljon se teenwoordigheid in Marioepol dat dit so erg gaan. Rusland het verlede week aan die Azofbende vrye deurgang gewaarborg, net sodat hulle uit die stad kan kom, en die burgers humanitere hulp kan kry.

Pieter ·

ek wonder net, hoekom skiet UK nie die rook uit RL stede ook nie? sekerlik kan UK hulle lewe ook so verwoes? ek weet dis nou nie die “regte” ding nie, maar flip, jy trap net soveel keer op my toon voor ek jou klap…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.