Byna 100 sterf toe veerboot omslaan

‘n Skermskoot uit ‘n video deur Mohammed Issam wat toon hoe bote probeer om mense uit die water van die Tigrisrivier te red nadat die veerboot gesink het. (Skermskoot: Mohammed Issam via AP)

Die eerste minister van Irak het Donderdag drie dae van rou afgekondig nadat ʼn tragedie hom in die noordelike stad van Mosul afgespeel en die lewe van tientalle mense geëis het.

ʼn Oorlaaide veerboot, volgepak met mense wat die Nowruz-vakansie gevier het, het gister op die Tigrisrivier omgeslaan. Baie van die mense wat dood is, was vroue en kinders. Van die oewer kon gesien word hoe hulle sukkel om teen die sterk waterstrome in te swem voordat baie onder die water verdwyn het.

Daar was ongeveer 200 mense op die veerboot, meer as dubbel die kapasiteit waarvoor die boot ontwerp is.

Hoewel daar tans onduidelikheid oor die amptelike dodetal is, is dit net minder as 100 mense. CNN berig 92 mense is dood terwyl 60 word steeds vermis word. Xinhua berig die dodetal staan tans op 93. Ongeveer 30 mense kon gered word nadat die boot omgeslaan het, maar reddingswerkers soek steeds na nog vermistes.

Adel Abdul-Mahdi, Irak se eerste minister, het Donderdag die toneel besoek en opdrag gegee dat ʼn ondersoek na die oorsaak van die ongeluk gedoen word. Hy het gesê die persone wat aanspreeklik is vir hierdie tragedie, sal aan die pen ry.

Naasbestaandes van die slagoffers wag op die oewer van die Tigrisrivier waar die veerboot in Mosul, Irak gesink het. (Foto: Farid Abdulwahed/AP)

ʼn Verteenwoordiger van burgerlike verdediging het vroeër die dag gesê die veerboot, wat aan ʼn plaaslike toerisme-kantoor behoort, was besig om passasiers van die oewer van die rivier na ʼn toeriste-eiland in die rivier te vervoer. Volgens dié bron was die boot met meer as 100 mense oorlaai en was die veerboot oorspronklik ontwerp om sowat 30 mense op ʼn slag te vervoer.

CNN berig Duraid Hikmat Tobya, die direkteur van Nineveh Water Resources, het gesê die boot het halfpad na sy bestemming omgeslaan weens die hoë watervlak in die rivier. Hussam Khalil, die hoof van burgerlike verdediging in die Ninevé-provinsie, het intussen aan AP gesê die veerboot het “’n tegniese probleem” ondervind.

Reddingspanne meen dit is onwaarskynlik dat ʼn amptelike dodetal binnekort bevestig sal kan word, aangesien baie van die slagoffers deur die vinnigvloeiende rivier meegesleur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

willem Botha ·

Gesien dat 70% van die land moslems is gaan veerbote seker ook verban word ,regtig nie n goeie tyd vir hulle nie.

Sot ·

Alle simpatie aan die gesinne en geliefdes. Wondernof die veerboot gebom gaan word?

Sulet ·

Kon die mense wat nie self op die boot was hul koppe gebruik en besef dat dit ‘n gevaarlike situasie was nie? Hoekom altyd iemand anders die skuld gee? Hulle was self verantwoordelik vir hul ondergang.

Maljan ·

Het jy al gesien hoe hulle treine lyk. Die dakke van waens is vol mense hang aan vensters en deure. Ag nee! Verbaas my die goed kan enigsins beweeg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.